Februarie 2010 (2) - Nuusbrief nr. 40

  • Helpende Hand skop af met opleiding van 49 dagmoeders
  • Helpende Hand stel professionele beroepsleidingsdiens bekend

 

Behoefte aan opleiding groter as wat ons dink

Helpende Hand het geskiedenis gemaak toe Danville-mammas op 17 Februarie met dagmoederopleiding by ʼn gemeenskapsentrum in die weste van Pretoria begin het. Die ongelooflike behoefte vir bemagtiging was duidelik toe 49 mammas in plaas van ʼn verwagte 20 opgedaag het vir die opleiding.

Kleuters het veel meer nodig as vol magies om skoolgereed te wees. Om dié rede het Helpende Hand as deel van die nasionale Kosblikkieprojek, wat fokus op die nood van behoeftige Afrikaanse kleuters, onderneem om meer te gee as kos. 

ʼn Vennootskap is met die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans gesluit om hulle dagmoederprogram vir juffrouens en ma’s aan te bied. Na afloop van die program van 30 weke sal ʼn ma nie net toegerus wees om haar kind voor te berei vir die wêreld van skool nie, sy sal ook haar eie dagmoedersentrum kan begin. Die program sal dus ʼn positiewe rimpeleffek deur die hele gemeenskap hê.

Danksy die bydraes wat Helpende Hand-ondersteuners tot die Kosblikkieprojek van 2009 gemaak het, kan 20 ma’s vanjaar opgelei word. Alle verwagtinge is oortref toe meer as dubbel die hoeveelheid mammas opgedaag het. Sommige het kilometers ver met hulle kinders gestap om met die opleiding te begin. Wat my geraak het, was die groot aantal babas en peuters wat saamgekom het. Dit is immers hulle wat direk by die opleiding moet baat.   

Omring deur arm ma’s wat met kleintjies in hul arms in ʼn ry staan om vir die kursus te registreer, het twee dinge my getref: Eerstens is dit nie waar dat alle arm mense sleg is en nie wil werk nie. Daar is baie wat wil werk, wat bereid is om hulle moue op te rol en om groot opofferings te maak – hulle het egter nie die geleentheid of die nodige leiding om hulself op te hef nie. Tweedens soek hierdie ma’s meer as kos en klere – hulle soek menswaardige behandeling en iemand wat glo in hulle potensiaal. Dit is vir my ʼn riem onder die hart dat hulle Helpende Hand vertrou en in hulle leefwêreld toelaat. Elke Helpende Hand-ondersteuner moet weet dat sy of haar bydrae en omgee ʼn wesenlike verskil aan die ma’s en kindertjies se lewens maak.   

Dr. Danie Langner
Uitvoerende direkteur
Solidariteit Helpende Hand

(t) 012 644 4390
(f) 012 664 1295
danie@helpendehand.co.za

 

Maak ʼn verskil vir R1,66 per dag

Wat het jou kinders vanoggend geëet? Het jy geweet dat daar kinders in Suid-Afrika is wat slegs een keer elke paar dae eet? Vir net R1,66 per dag kan jy ʼn verskil maak in die lewe van ʼn kind. Sluit vandag by Solidariteit Helpende Hand aan vir slegs R1,66 per dag (R50 per maand). Met hierdie R50 skep Solidariteit Helpende Hand geleenthede vir opheffing, werkskepping en opleiding deur volhoubare projekte. Verleen vandag jou helpende hand aan ʼn kleuter, ʼn skoolkind of ʼn jongmens. Dit gaan direk aan die Helpende Handfonds en die fondse word dan verdeel daar waar nood is.  Vir ons is R50.00 nie baie nie maar vir ander mense kan dit 'n bord kos vannaand beteken of 'n warm ding om aan te trek. 

Besoek Solidariteit Helpende Hand se webblad by www.helpendehand.co.za

Zuma moet diskriminasie teen arm wittes stop, eis Helpende Hand 

2010-02-16

President Jacob Zuma het Donderdagaand in sy staatsrede aangekondig dat armes teen stygende elektrisiteitspryse beskerm sal word, maar volgens dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, geld dit nie vir arm wittes in Pretoria nie. Blatante diskriminasie kom voor aangesien instansies soos Zanempilo Home Based Care in Atteridgeville en die Meadowlands Tehuis vir Bejaardes se elektrisiteitsrekening wel onderskeidelik gedeeltelik en ten volle gesubsidieer word. Beloftes aan inwoners van ʼn versorgingsentrum vir bejaardes in Hermanstad en ʼn informele nedersetting in Pretoria-Wes bly egter leeg.

Lees verder »

Stel KBE weer in, eis Helpende Hand na agtjarige se ondervragingstrauma

2010-02-16

Solidariteit Helpende Hand eis dat die kinderbeskermingseenheid (KBE) heringestel word ná die soveelste voorval waarin die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) misluk het om na ʼn kind se basiese regte om te sien met die aanmelding van ʼn klag. Dié oproep volg op die jongste berigte van ʼn agtjarige se ondervragingstrauma tydens die aanmelding van beweerde seksuele molestering.

Lees verder »

Het jy ʼn diens of produk wat jy wil adverteer?

Helpende Hand se webwerf word maandeliks deur duisende mense besoek. Ten einde ʼn beter diens aan die gemeenskap te lewer, is ʼn Helpmekaar-skakel op die webwerf geskep. Helpende Hand nooi individue of besighede uit om hulle idees, produkte of dienste op die webwerf onder die Helpmekaar-skakel te adverteer. Indien jy reeds ʼn ondersteuner van Helpende Hand is, kan jy jou diens of idee gratis hier bekendstel. Andersins kan jy jou produk of diens teen R50 per maand adverteer. Registreer nou en word deel van Helpende Hand se effektiewe hulpnetwerk.

Stuur jou besonderhede na diens@helpendhand.co.za om jou besigheid te registreer.

Helpende Hand bied Voelgoed Week aan in samewerking met Finesse

Die eerste nasionale Voelgoed Week word hierdie jaar in samewerking met Finesse-tydskrif vanaf 1 - 7 Maart 2010 aangebied.

Die hoogtepunt van die Voelgoed Week is die Voelgoed Ekspo op Saterdag, 6 Maart by die Heartfelt Arena in Pretoria. Bekendes soos Hannon Bothma (die Glam Guru), Natasha Sutherland, Dawie Roodt, Kobus Neethling en Susan Coetzer gaan sewe gratis werkswinkels tydens die ekspo aanbied. By elke werkswinkel sal fantastiese pryse soos Hannon-produkte en boeke deur die aanbieders van die werkswinkels weggegee word. Kaartjies is beskikbaar by www.voelgoedweek.co.za of by Computicket.

’n Gedeelte van die inkomste van die ekspo sal aan Helpende Hand geskenk word.

 

 

Helpende Hand stig ses nuwe takke

Enigiemand met ʼn omgeehart en ʼn helpende hand kan ʼn verskil maak in ʼn gemeenskap. Helpende Hand-takke bestaan uit vrywilligers met omgeeharte wat prakties hoop skep vir mense in nood. Met behulp van hierdie takke word maatskaplike, geestelike en kulturele armoede in gemeenskappe deur die gemeenskappe self verlig.

Kontaknommers:
Richardsbaai: Johan Smith – 082 774 6233
Pinetown: Marius du Toit – 031 702 6457
Pietermaritzburg: Martina Roux – 082 662 9019
Kemptonpark: Ella Pieterse – 082 406 3655
Bloemfontein: Vanessa Marais – 082 821 1529
Centurion: Anton Smit – 082 856 3704

Klik hier, sluit aan by Helpende Hand en maak vandag nog ʼn verskil


 Helpende Hand se laaste skooltassies is uitgedeel by Losberg Laerskool in Fochville deur Helpende Hand se Wesrand/Roodepoort-tak

Laaste skooltassies word uitgedeel

Helpende Hand se streekkantoor in Kaapstad bedank Time Freight koerierdiens vir die gratis vervoer van skooltassies na die Oos-Kaap en Suid-Kaap. Die tassies het vinnig en ongedeerd by al die takke uitgekom.

Op die foto: Agter (links): Ferdinand Brand (senior toesighouer), regs: Suzette van Niekerk (persoonlike assistent van die direkteur).

Voor (links): Freddie van de Bank (algemene bestuurder, regs: Amit Devir (direkteur)

 

Nuwe Helpende Hand-tak in Bloemfontein beplan opheffingsprojekte vir Yadè en Gruisstraat

Kobus de Lange se storie

Kobus de Lange* bly in Gruisstraat Bloemfontein in een van vyf huise waarin 93 mense woon.Kobus* is as baba by ʼn kinderhuis afgegee. Hy was in agt verskillende kinderhuise tot en met die ouderdom van 16. ʼn Lid van die Pretoriase gemeenskap het hom ʼn werk as handlanger vir ʼn motorwerktuigkundige aangebied. Daar het hy nege jaar ondervinding opgedoen, maar die karige salaris is nooit in die nege jaar aangepas nie. Sy destydse werkgewer het ook nie die nodigheid gesien om vir hom ʼn sertifikaat of brief ten opsigte van sy ondervinding te gee nie. Kobus is hardwerkend en wil graag ʼn vaste werk in sy veld kry, maar as gevolg van sy gebrek aan kwalifikasies kry hy nie werk nie. Vandag bly hy in Gruisstraat vanwaar hy tien kilometer per dag stap om tydelike werk teen R100 per dag te doen.

Raak betrokke by die nood in Bloemfontein. Skakel Vanessa by 082 821 1529.

ʼn Inwoner van Yadè, Jannie de Beer* (66), maak en verkoop plekmatjies teen R2,50 elk om ʼn inkomste te verdien.

 

 

 

 

 

*Skuilnaam

Helpende Hand se Roodepoort-tak vergesel nuusagentskap na wit informele nedersettings

Die voorsitter van Helpende Hand Roodepoort, Louwretta Jacobs, het onlangs die internasionale nuusagentskap Reuters vergesel op ʼn besoek aan wit informele nedersettings in die Roodepoort-/Krugersdorp-area.

Kyk na die video »

 

Solidariteit Helpende Hand stel professionele beroepsleidingdiens bekend

Helpende Hand neem aktief deel aan die opvoeding van ons kinders deur die Afrikaanse Beroepsleidinginstituut wat in Januarie 2010 geopen is. Die Afrikaanse Beroepsleidinginstituut skop af deur professionele beroepsleiding te bied vir Helpende Hand-ondersteuners. Beroepsleiding bied kinders die geleentheid om hulself te leer ken en beroepe te oorweeg teen die agtergrond van hul persoonlikheid, belangstellings, vermoëns en roeping. Hierdeur word kinders bemagtig met inligting sodat hulle ingeligte besluite kan neem en sodoende vir hulself ʼn hoopvolle toekoms verseker.  
Die beroepsleidingaanbod sluit die volgende in:

  • Toetsing van aanleg en verstandelike vermoë, persoonlikheidsevaluering, evaluering van belangstellings en evaluering van selfkonsep (neem ongeveer drie ure)
  • ʼn Terugvoersessie van een uur en verslag

Werkswinkels oor beroepsleiding, vakkeuses en/of studiemetodes word ook aangebied vir groepe van 15 of meer kinders. Die toetsing, terugvoer en verslag word behartig deur ʼn deskundige wat 30 jaar ondervinding het in beroepsvoorligting. Die tarief beloop R1 250 per leerling. Lede van Solidariteit of Helpende Hand kry die diens teen 16% afslag. ʼn Tarief vir werkswinkels sal met belangstellendes onderhandel word.


Kinderstrandkampe bied geleentheid vir jeugontwikkeling

Kinderstrandkampe is een van Helpende Hand se projekte wat kinders die geleentheid gee om hulself te leer ken deur lewensvaardigheid- en persoonsontwikkeling. Die kampe strek oor ʼn week en word op die Kinderstrand-terrein in Glenmore gehou. Dit is ook ʼn geleentheid om kinders wat milieugestremd is se wêreld te verbreed deur aan hulle ʼn positiewe leerervaring te gee en te wys dat die lewe wyer strek as hul direkte omgewing tuis.

Akkomodasie en spyseniering

  • R165 p.p.p.d, wat verblyf en drie volledige etes insluit. ʼn Minimum van 60 persone per bespreking

Helpende Hand stel die volgende datums in 2010 beskikbaar vir jeuggroepe, skole, kerke of vakansiegangers wat by die Kinderstrand in Glenmore wil kampeer:

  • 27 Maart - 2 April , 3 - 10 April , 19 - 25 Junie, 26 Junie - 3 Julie, 4 - 10 Julie, 24 September - 3 Oktober en 21 - 31 Desember

Vir meer inligting kontak Karin Venter by 012 644 4390 of karin@helpendehand.coza.

 

Skakel elke Maandag om 12:00 in by www.solidariteitradio.co.za en kuier saam met Lindie Strydom op Mense op Maandag.

Maak geld jou bang of bly? - 8 Februarie 2010

In hierdie program gesels ons oor geldsake. Onderwerpe soos die plek van geld in die huwelik en die herdefiniëring van geld in jou werk en jou lewe word in diepte bespreek. Ons gesels ook met die nasionale direkteur van Crown Financial Ministries, Handre de Jongh, wat die Bybelse perspektief rondom skuldkwessies bespreek.

Luister na die volledige program

Hoekom is liefde die grootste? - 15 Februarie 2010

In hierdie program vier ons die internasionale dag van liefde. Ons gesels met bekende akteur en voormalige Mnr. Suid Afrika, Marcus Muller, en die liefde van sy lewe, Theresa Benade, oor hulle liefdesgeheime. In die program gesels ons ook met Elsabe Homan oor vergifnis. Haar dogter, Bernadine Kruger (17), is op 23 Februarie 2009 doelbewus van haar bromponie afgery. Hoe vergewe ʼn ma ʼn moordenaar wat volgens die streekslanddros geen berou getoon het nie? 

Luister na die volledige program


 



Helpende Hand vra hulp

  • Nicki Nel (22) se ses maande oue seuntjie John Claud het ʼn gewas op sy brein. Hy word volgende week by die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria-Wes geopereer.
    Nicki doen ʼn beroep op die publiek om te help met die borg van medisyne, doeke, babaformule en speelgoed vir klein John Claud. Volgens haar kan babaklere nie oor sy geswelde koppie pas nie. “Ek sal dit baie waardeer as iemand kan help met klere met knopies wat ons nie oor sy koppie hoef aan te trek nie,” sê Nicki.
  • ʼn Ouma benodig dringend melk en doeke vir haar twee kleinkinders wie se ma spoorloos verdwyn het. Weens ʼn tekort aan ruimte in haar tweeslaapkamerwoonstel benodig sy ʼn stapelbed vir haar kleinkinders. Om skenkings te maak, skakel Surika by 012 644 4390.

Helpende Hand se skenkingskantoor in Pretoria benodig dringend die volgende items:

  • Kos
  • Babaformule en -doeke
  • Sporttoerusting
  • Toiletware

Indien jy benodigdhede wil skenk, skakel die skenkingskantoor by 012 644 4426.
Sluit aan by Helpende Hand en maak vandag nog ʼn verskil.



Helpende Hand sê dankie

Krugersdorp se ATKV-dames maak ʼn skenking aan Kosblikkieprojek

Louwretta Jacobs, voorsitter van Helpende Hand Wesrand/Roodepport, en Lindie Strydom het op Saterdag, 13 Februarie ʼn gesellige Valentynsdagfunksie van die ATKV-dames van Krugersdorp bygewoon waar daar saam kop gekrap is oor die tema van Geloof, Hoop en Liefde en hoe liefde prakties in jou gemeenskap “gedoen” kan word. 
ʼn Tjek is tydens die geleentheid aan Helpende Hand oorhandig vir die nasionale Kosblikkieprojek. ʼn Groot dankie aan die organiseerder, Alta Prinsloo, vir die reuse liefdesgeskenk! 


Van links: Este Pienaar (gaskunstenaar), Alta Prinsloo (organiseerder) en
Lindie Strydom (skakelbeampte van Helpende Hand)

PWS se hande bly oop

Die skryfbehoefteverskaffer van die Skooltassieprojek, PWS, se hande is nog lank nie klaar gegee nie. Na afloop van die uiters suksesvolle Skooltassieprojek het PWS ʼn verdere 10 ton skryfbehoeftes aan Helpende Hand geskenk. Hierdie skryfbehoeftes sal tydens die opleiding van dagmoeders ingespan word en sal ook aan die graad 2- tot 7-leerlinge van ʼn paar skole uitgedeel word. Dankie PWS!

Engel gee hoop aan mense in nood

Helpende Hand het ʼn steunpilaar genaamd Isabel Potgieter in Hermanstad, Pretoria. Isabel ry met haar gehawende ou bakkie van Hermanstad na Midstream Spar om kos op te laai wat sy vir die armes uitdeel. Isabel, ʼn pensioenaris, ry saam met haar twee gestremde kleinseuns, Herman en Philip, op eie onkoste om die kos tot drie keer ʼn week af te lewer. ʼn Goedhartige skenker het onlangs geld ingesamel om vir Herman en Philip klere te skenk om dankie te sê vir die wonderlike werk wat hulle doen.

 

 

Skenkings aan Helpende Hand kan weeksdae tussen 08:00 en 16:30 by Helpende Hand se skenkingskantoor in Centurion afgelewer word. Hier bepaal Helpende Hand waar die onderskeie skenkings die beste aangewend kan word.

Vir meer inligting oor hoe om ʼn skenking te doen, stuur ʼn e-pos na skenkings@solidariteit.co.za of skakel 012 644 4426.

As jy 'n donasie aan Solidariteit Helpende Hand wil maak, kan jy dit ins ons bankrekening inbetaal. Neem kennis dat Helpende Hand se bankbesonderhede verander het na:

Bank: ABSA
Rekeningnommer: 407 225 0017
Tak: Centurion
Takkode: 632005

Of skakel die inbelsentrum by 0861-25-24-23