Januarie 2010 - Nuusbrief nr. 37

  • Helpende Hand reg vir 2010
  • Presies 20 jaar ná die dood van pedofiel Gert van Rooyen
  • Helpende Hand stig Beroepsleidinginstituut

 

Helpende Hand is reg vir 2010!

2009 was vir Helpende Hand ʼn belangrike jaar. Helpende Hand het ʼn CD, Hande vir hoop, vrygestel waarop 12 bekende Afrikaanse kunstenaars ʼn lied genaamd Sielsgebed sing om mense bewus te maak van die nood waarin ons kinders verkeer.

Hiermee saam het Helpende Hand ʼn skokkende Kindermishandelingsverslag bekend gestel wat die nood van ons kinders onder die breë publiek se aandag gebring het. Helpende Hand se skenkingskantoor kon meer as R2,5 miljoen se kos en ander lewensmiddele aan mense in nood versprei. Die Afrikaanse Beursinstituut het honderde jongmense met potensiaal in staat gestel om verdere opleiding te ontvang. ʼn Reddingsdaadkongres is aangebied waar 66 organisasies van regoor die land saamgedink en -gepraat het oor die nuwe, stille Afrikanerarmoede.  

ʼn Boek, Gebroke land, is bekend gestel wat vir die eerste keer in die land se geskiedenis die verhaal van armoede in die Afrikaanse gemeenskap vertel. Landswyd is tientalle Helpende Hand-takke gestig. Hierdie takke maak reeds ʼn reuse verskil in hulle gemeenskappe deur op verskeie praktiese maniere die nood onder verarmde Afrikaners aan te spreek. Die krag van Helpende Hand lê juis in vrywilligers wat bereid is om hoopdraers in hulle gemeenskappe te wees. In hierdie nuusbrief sal jy, onder andere, lees van die Helpende Hand-tak in Phalaborwa wat verblyf moontlik maak vir die ouers van ʼn jong kankerlyer.

Navorsing deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge toon dat armoede in die wit gemeenskap van Suid-Afrika in 2009 met 197% toegeneem het. Verdere statistiek toon dat –

  • 131 000 behoeftige wit gesinne nie voldoende verblyf het nie en by ʼn HOP-huis sal baat. Hierdie gesinne woon tans in sinkhuise, karavane, Wendy-hutte, stukkende tente en selfs ou hoenderhokke. Die Tshwane-metroraad het sedert 2000 net twee HOP-huise aan behoeftige wit gesinne gegee, waarskynlik omdat hulle bereid was om na ʼn informele nedersetting buite hulle bestaande gemeenskap te verhuis;
  • 46% van die wit gemeenskap nie ʼn huis van meer as R200 000 kan bekostig nie;
  • werkloosheid in die wit gemeenskap tans met 150% toeneem;
  • in Pretoria alleen, wit informele nedersettings in ses maande van 38 tot 77 toegeneem het. Daar is ʼn nuwe geslag arm Afrikaner-kinders wat in plakkerskampe grootword. Die meerderheid van hierdie kinders is ongeletterd, maak nie skool klaar nie en is aan die ergste vorme van morele verval, seksuele misbruik en misdaad blootgestel; en
  • ekonome skat dat die omvang van Afrikaners wat verarm tussen 600 000 en 750 000 is – ʼn groter getal as tydens die armblankevraagstuk van die 1930’s.

Ten einde die groeiende nood onder Afrikaners meer doeltreffend aan te pak, het Helpende Hand landswyd ʼn bekwame span streeksorganiseerders ontplooi. Hierdie entoesiastiese en kreatiewe streeksorganiseerders is gereed om hulle gemeenskappe met innoverende idees en inisiatiewe in 2010 by te staan. Ons het dus in 2010 almal se ondersteuning nodig – ook joune.

Ondersteunersgetalle is belangrik vir ʼn minderheidsgroep wat in ʼn meerderheidsomgewing leef. Getalle is belangrik wanneer ons onregte doeltreffend wil aanspreek of maatskaplike dienste vir weerloses soos kinders en bejaardes beding.

Helpende Hand vra die ondersteuning van elke nuusbriefleser. As jy nog nie ʼn ondersteuner is nie, word vandag een. Besoek ons webblad, www.helpendehand.co.za, skakel ons by 0861 25 24 23 of stuur ʼn e-pos na diens@helpendehand.co.za.  

Met die regte ondersteuning en hulp kan Helpende Hand vanjaar nog ʼn groter verskil maak as in 2009. Wees vanjaar deel van die oplossing.

Dr Danie Langner
Uitvoerende direkteur
Solidariteit Helpende Hand

Maak ʼn verskil vir R1,66 per dag

Wat het jou kinders vanoggend geëet? Het jy geweet dat daar kinders in Suid-Afrika is wat slegs een keer elke paar dae eet? Vir net R1,66 per dag kan jy ʼn verskil maak in die lewe van ʼn kind.

Sluit vandag by Helpende Hand aan vir net R1,66 per dag (R50 per maand). Verleen vandag jou helpende hand aan ʼn kleuter, ʼn skoolkind of ʼn jongmens. Vir ons is R50 nie baie nie maar vir iemand anders is dit meer as een ete.

Om ʼn lid te word, SMS die woord HAND na 35960 en ons sal jou kontak (R3 per SMS) of skakel ons inbelsentrum by 0861 25 24 23.
 
Besoek ook Helpende Hand se webblad by www.helpendehand.co.za.  

Presies 20 jaar ná die dood van pedofiel Gert van Rooyen
Helpende Hand eis aksie van regering


Foto: Reint Dykema

Pedofiel Gert van Rooyen het op 15 Januarie 1990 selfmoord gepleeg. Dit is presies 20 jaar gelede. Solidariteit Helpende Hand het op Donderdag, 14 Januarie geëis dat die regering nou aksie moet neem teen kinderverkragtings en kinderontvoerings.

“ʼn Koor van nuwe ministers het aangekondig dat kinderbeskermingseenhede heringestel gaan word. Natuurlik is die adjunk-minister van polisie, Fikile Mbalula, die minister van polisie, Nathi Mthethwa, sowel as die minister van vroue, jeug, kinders

en mense met gestremdhede, Noluthando Mayende-Sibiya, se tydige en noodsaaklike oproepe ʼn aanduiding dat die regering die erns van die probleem besef – veral met die oog op 2010 se sokker,” verduidelik dr. Danie Langner, uitvoerende direkteur van Helpende Hand. “Hulle beloftes bly so leeg soos die erf waar Van Rooyen se huis in Capital Park eers gestaan het. Die beskermingseenheid het destyds ʼn daadwerklike rol gespeel in die Van Rooyen-saak maar vandag val ons kinders deur die leemtes in die sisteem.”

Helpende Hand se Kindermisdaadverslag bewys dat besorgde polisiebeamptes en maatskaplike werkers reeds sedert 2006 besig is met ondersoeke na dwelmsindikate wat meisies van so jonk as 12 jaar aan dwelms verslaaf maak sodat hulle reg is vir prostitusie in 2010. Dat die kommer nie ongegrond is nie word bevestig deur ʼn verslag waarin die regering van president Barack Obama waarsku dat koppelaars van kinderprostitute hulle intrek neem in van die gasheerstede om naby die lonende 2010-mark te wees.

“Oud-president Nelson Mandela het tereg opgemerk: “Die karakter van ʼn nasie word gemeet aan die manier hoe hy sy kinders behandel.” As daar elke drie minute in Suid-Afrika ʼn kind verkrag word, as 1 410 kinders jaarliks vermoor word, as bordele en dwelmsindikate nader aan sokkerstadions skuif met die oog op 2010, en as maatskaplike werkers regoor die land sê dit is nie eers die oortjies van die seekoei nie, is daar ʼn ernstige vraag oor die medemenslikheid van Suid-Afrika se karakter,” sê dr. Langner.

Die welstand van ons kinders lê nie net by die staat nie, maar is ook die verantwoordelikheid van die gesin. ʼn Gesin is nie net veronderstel om ʼn veilige hawe vir kinders te wees nie, maar gesinne is ook die hoekstene van ʼn stabiele samelewing.
Navorsing toon egter die teenoorgestelde neiging in Suid-Afrika:
• 22% van kindermolestering is deur vriende;
• 16% is deur gesinslede;
• 45% van alle verkragtings wat aangemeld word, is kinderverkragtings;
• 88% van kinderverkragtings word waarskynlik nooit deur ouers aangemeld nie;
• In 90% van gevalle van kindermishandeling binne die gesin speel alkohol en dwelms ʼn rol;
• 80% van die kinders onder twee jaar wat by Kinderlyn aanmeld, het skedelbreuke; en
• Onsedelike aanrading het gestyg van 45% tot 52%.
 
Gert van Rooyen se eiendom is deur Absa aan die polisie gegee sodat hulle die saak verder kon ondersoek. Die polisie het die huis heeltemal afgebreek en die grond gesif vir verdere bewyse. Die plan was om ʼn kinderbeskermingseenheid later om hierdie terrein op te rig.

Klik hier om na die Helpende Hand video oor die Gert van Rooyen-veldtog te kyk.

Kaptein sak saam in die skooltassieskrum

Rassie Erasmus, voormalige Springbok rugby kaptein en afrigter van die Stormers, sak vanjaar weer saam met Solidariteit Helpende Hand in die skooltassieskrum.

Erasmus, beskermheer van Helpende Hand in die Wes-Kaap, stem saam dat gemeenskappe self moet begin verantwoordelikheid aanvaar vir hul eie behoeftes. Volgens hom is dit die moeite werk om ʼn projek soos die Helpende Hand Skooltassieprojek te ondersteun omdat jy direk belê in die toekoms van ʼn kind.

“Opvoeding en opleiding van ons kinders is die enigste blywende antwoord op die armoedevraagstuk in Suid-Afrika,” sê Erasmus. “Die belangrikheid lê daarin dat ons ʼn graadeentjie wat uit ʼn arm huis kom, nie met ʼn agterstand moet skool toe stuur nie. Graad een is die belangrikste vormingsjaar van ʼn kind op skool. Die kind moet nie soos ʼn slagoffer van armoede voel nie.”

Helpende Hand se skooltassieprojek het in 2007 afgeskop. Die doel van die projek is om behoeftige Afrikaanse graad eentjies met die nodige skryfbehoeftes te voorsien sodat hulle hul skoolloopbaan op dieselfde vlak as meer behoeftige maatjies kan begin.

In die begin van 2008 het 2 000 kinders so tassies gekry en in 2009 is 4 000 tassies landswyd versprei. Op 20 Januarie het Helpende Hand reeds 2 500 tassies landswyd versprei en was die span steeds besig.

Die skooltassie se inhoud bestaan uit: ʼn witbordjie, witbordmerker, witbord uitveër, HB potlode, inkleurpotlode, skerpmaker, skêr, telraam, pennesakkie/blikke, springtou, boontjiesak, liniaal, uitveër, inkleurboek, uitdraaikryte/vetkryte en gom.

“ʼn Skooltassie is ’n Kersfeesgeskenk wat waarlik ’n verskil in ’n kind se lewe kan maak,” sluit Erasmus af.

Skooltassie toer saam met Egoli

Solidariteit Helpende Hand het verlede Desember met sy skooltassies saam met die TV-reeks Egoli op toer gegaan. Die toer het op 31 Oktober in Bloemfontein begin en in Desember Buffelspoort, die Bravo Fees in Mosselbaai en Goudini besoek.

Die toer het finansieel bygedra tot die Helpende Hand Skooltassieprojek.

Op die foto is (agter) Chanelle de Jager en David Rees en (voor) Sarah Theron, Shaleen Surtie Richards (beskermvrou van Helpende Hand se Kosblikkieprojek), Hannes van Wyk en Lindie Strydom.

 

Uitreikaksie in Lichtenburg

Helpende Hand Potchefstroom het in Desember twee uitreikaksies in onderskeidelik Lichtenburg en Ottosdal gehad.

Die Lichtenburg Kersboom het sowat 150 kinders by die Lichtenburg-dam onthaal. Zak van Niekerk het as gaskunstenaar opgetree. Die haarsalonne op die dorp het hulle tyd geskenk om vir minderbevoorregte vroue ʼn voorkomsverandering te gee, wat die vroue se moraal gelig het.

Werkloosheid in Lichtenburg word tans op ongeveer 25% geskat en hierdie gesamentlike aksie tussen Helpende Hand en die maatskaplike diensorganisasie, Lichies, kon vir inwoners weer hoop gee.

 

Geestelike verryking in Ottosdal

Vyftig kinders van Stilfontein, Klerksdorp, Sannieshof, Ottosdal en Wolmaranstad is op ʼn naweek in Ottosdal getrakteer. Die naweek het ʼn sterk geestelike inslag gehad en Gideons Suid-Afrika het Bybels aan die kinders geskenk. Die kinders het die Saterdagaand ʼn nagmars met kerse gedoen en Ottosdal se inwoners met Kerssang verras. Hulle het die Sondagoggend ʼn kerkdiens bygewoon, waarna die naweek met ʼn potjiekosmiddagete afgesluit is.

 

Poppe kry huise in Louis Trichardt

Helpende Hand Louis Trichardt het in Desember poppe aan behoeftige kinders uitgedeel. Christa van die Louis Trichardt-tak het saam met haar dogter 20 poppe met klere gewas en skoongemaak. Inspekteur Brood Smit van Musina SAPD het drie van hierdie poppe in Musina aan kinders oorhandig. Die tak het ook ʼn bakkievrag klere aan behoeftige kinders by ʼn laerskool in Louis Trichardt versprei.

 

Phalaborwa-tak staan jong kankerlyer by

Bronwyn York is ʼn 16-jarige meisie wat nie meer kan sien nie weens ʼn gewas op haar linkerbrein. “Toe ek vir haar gaan kuier het was ek geskok om te sien hoe maer die kind is. Sy was besig om ʼn bakkie voëltjiesaad te eet omdat dit al is wat haar maag kan hanteer,” skryf Nicolise Schambriel van Helpende Hand Phalaborwa. 

Die gewas veroorsaak haar blindheid, naarheid en verskriklike hoofpyne. Nicolise het ʼn dokter in Pretoria gekry wat Bronwyn gratis ondersoek het. Sy is in die Steve Biko-hospitaal (voorheen Pretoria Akademies) opgeneem. Daar is tans pypies in haar brein wat help om eers die vog te dreineer voordat sy geopereer kan word. Die gesin het geen mediese fond nie. Bronwyn se pa is een van die mense wat by ʼn myn in Phalaborwa afgelê is. Hy en sy vrou huur tans verblyf naby die hospitaal terwyl hulle wag dat Bronwyn geopereer word.

Helpende Hand Phalaborwa dra tesame met die Round Table reeds die onkoste van die ouers se verblyf. Ons vra mense om hul harte vir hierdie gesin oop te maak en te help met ʼn donasie – hetsy vir Bronwyn se hospitaalkoste, dokterskoste of operasiekoste. Die operasie is reeds drie keer uitgestel en Bronwyn is nou reeds meer as ʼn maand in die hospitaal. “Elke bietjie help,” sê Nicolise. “Bronwyn is ʼn baie positiewe en opgeruimde kind en wil baie graag huis toe gaan en teruggaan skool toe.”

Vir enige verdere navrae of om ʼn kontantskenking te maak, skakel Nicolise van Helpende Hand Phalaborwa by 082 882 0705. 

 

Helpende Hand Streeksorganiseerders:


Voltan Senekal

Streeksorganiseerder: Noordwes en Oos-Vrystaat
Sel: 083 648 6324
voltan@helpendehand.co.za


Erika Botha Rossouw

Streekorganiseerder: Oos-, Wes-, en Suid-Kaap
Sel: 072 195 6581
erika@helpendehand.co.za


Vanessa Marais

Streekorganiseerder: Suid-Vrystaat en Noord-Kaap
Sel: 082 821 1529
vanessa@helpendehand.co.za


Gerhard Rheeder

Streekorganiseerder: Mpumalanga
Sel: 079 183 8191
gerhardr@helpendehand.co.za


Marianthie van der Walt

Streeksorganiseerder: Limpopo
Sel: 082 741 7858
marianthie@helpendehand.co.za


Mariana Kriel

Streeksorganiseerder: Gauteng Noord
Sel: 082 384 0226
mariana@helpendehand.co.za



Tiaan Esterhuizen

Streeksorganiseerder: Gauteng Suid
Sel: 082 824 7297
tiaan@helpendehand.co.za


Johan Jacobs

Senior Bestuurder Gemeenskapsontwikkeling. Hanteer: KwaZulu-Natal
079 869 7859
johan@helpendehand.co.za

 

Helpende Hand stig Beroepsleidinginstituut

Helpende Hand skop 2010 af met ʼn splinternuwe inisiatief: ʼn  Beroepsleidinginstituut.

“Slegs opvoeding maak jou werklik vry.” Epictetus

Die toekoms van kinders lê vir Helpende Hand baie na aan die hart en dis is juis om hierdie rede dat die Helpende Hand Beroepsleidinginstituut gestig is. Die Instituut fokus op “opheffing deur opleiding” om sodoende die armoedesirkel teen te werk.

Die doel van die Instituut

Die Instituut help Afrikaanse kinders hoofsaaklik om die regte beroepskeuses te maak ten einde hulself tot onafhanklikheid te bemagtig. Die Instituut word deur die JD Kestell-gedenkfonds, wat verlede jaar by die Helpende Hand Reddingsdaadkongres gestig is, gefinansier.

Agtergrond van dr. JD Kestell

Dr. JD Kestell het tydens die eeufeesviering van die Groot Trek in 1938 ʼn ernstige pleidooi gelewer, nie net vir ʼn regverdiger samelewing nie, maar dat daar ook ʼn hartgrondige verandering in mense se opvatting oor minderbevoorregte Afrikaners moet wees. 

Dr. Kestell  het die eretitel van vader verwerf, want hy was nie net die vader van die Reddingsdaad-beweging nie, maar ook vader van die Afrikaanse Bybel van 1933, vader  van weeshuise en ʼn arbeidskolonie in die Vrystaat na die Anglo-Boereoorlog, asook vader van die destyds miskende Grey Universiteitskollege. Bowenal was dr. Kestell ʼn vader vir die verarmde Afrikaner wie hom só diep geraak het, dat hy sy lewe daaraan gewy het om verarmde Afrikaners geestelik, kultureel en maatskaplik op te hef.

Hy het geglo dat afhanklikheid van ander se genade armes ontneem van die innerlike wil om bo hulle vervalle omstandighede uit te styg. Om hierdie rede het hy gepleit dat die armes eerder met liefde, deernis en begrip opgehelp en bygestaan moet word om bo hulle omstandige uit te styg, as om hulle met liefdadigheid aan ʼn toestand van afhanklikheid te verslaaf. Die sleutel tot die verbreking van die armoedesirkel wat volgens hom opvoeding.

Deur opleiding word die armes nie net opgehef nie, maar persone wat reeds ʼn roepingsbesef het, word gehelp om die nodige opleiding te kry om hulle roeping te kan uitleef.

Stigting van die JD Kestell-gedenkfonds

Met die herdenking van die 1939-Reddingsdaadkongres in 2009 is die JD Kestell-gedenkfonds in die lewe geroep na aanleiding van dr. Kestell se passie vir die volk. Die fonds finansier die Solidariteit Helpende Hand Beroepsleidinginstituut wat daarop gemik is om kinders ʼn hoopvolle toekoms te gee deur middel van verskeie beroepsleidingsprogramme, projekte, blootstelling aan die werksomgewing en bewusmaking oor beroepe wat skaars en kritiese vaardighede behels. Verder bied die Beroepsleidinginstituut  dienste vir professionele beroepsleiding en gee jongmense die geleentheid om hulle belangstellings en vermoëns te ontdek. Sodoende word hulle bemagtig om die regte keuses aangaande hulle roeping en loopbaan te maak en daardeur ʼn hoopvolle toekoms vir hulself te verseker.

Ander projekte wat deur die Instituut bestuur word

  • Loopbaangids: Fokus op skaars en kritieke vaardighede en loopbane
  • Kinderstrandprojek: Fokus op lewensvaardighede en persoonlike ontwikkeling

Helpende Hand stel die volgende datums vir jeuggroepe of vakansiegangers by die Kinderstrand-terrein in Glenmore beskikbaar:
27 Maart - 2 April, 3 - 10 April, 11 - 18 Junie, 19 - 25 Junie, 26 Junie - 3 Julie, 4 - 10 Julie, 24 September - 3 Oktober, 10 - 20 Desember, 21 - 31 Desember.
Slaapsale is beskikbaar vir kinders met twee afsonderlike huisies vir toesighouers. Spyseniering is beskikbaar. Minimum 60 mense per bespreking.
Indien jou kerk, jeuggroep of skool belangstel in ʼn heerlike, bekostigbare vakansie by die see, skakel vir Karin Venter by 012 644 4390 vir meer inligting.

  • Jongerenprojek: ʼn Nederlandse uitruilskema vir studente met potensiaal
  • ʼn Konferensie en projekte vir Afrikaanse entrepreneurs

Helpende Hand doen namens ons jongmense ʼn beroep op elkeen om die JD Kestell-gedenkfonds te help uitbou tot ʼn multi-miljoen rand fonds deur ʼn eenmalige of maandelikse bydrae te maak. Die grootte van die fonds sal afhang van die grootte van elke ondersteuner se hart.

“Die skuld van liefde is in die hart van ʼn gelowige teenoor sy medemens se sorge en probleme asook ʼn ontferming oor sy lot. Dié liefdesskuld gee aan die
beoefenaar daarvan voldoening in die
gemoed en vrede in die diepte van sy siel.” JD Kestell

Bank: ABSA
Naam van rekening: Solidariteit Helpende Hand
Takkode: 632005 – Centurion
Rekeningnommer: 4072250017
Verwysing: JD Kestell

Vir meer inligting rakende die Beroepsleidinginstituut, skakel:

Karin Venter
Bestuurder: Beroepsleidinginstituut
Tel: 012 644 4390                          
Faks: 012 664 1295 
karin@helpendehand.co.za

www.helpendehand.co.za

Skakel elke Maandag om 12:00 in by www.solidariteitradio.co.za en kuier saam met Lindie Strydom by Mense op Maandag.

Hoe lyk hoop vir ʼn behoeftige kind en ʼn ouer van ʼn vermiste kind?
18 Januarie 2010

Vir die een is “hoop” blou en propvol skryfbehoeftes en vir die ander is “hoop” die wag vir ʼn oproep dat jou sussie of kind na 20 jaar gevind is en dalk nog leef!

Hierdie program herleef die Gert van Rooyen en Joey Haarhoff-storie en die geheim wat na hulle vermeende selfmoord – nou 20 jaar gelede – saam met hulle graf toe is.
Ons gesels met Herman Wapenaar – die broer van Annemari Wapenaar, een van Gert van Rooyen se slagoffers. Ons maak jou deel van Helpende Hand se aksie by Gert van Rooyen se leë erf en ons beroep op die regering om hulle leë beloftes om effektiewe kinderbeskermingseenhede weer in te stel, na te kom. 

Klik hier en luister na die volledige program

 

Wil jy ook maer word in 2010?
11 Januarie 2010

Koos van der Merwe skryf in sy gedig: “almal wil maer word, maar niemand wil minder eet nie.” Wat gaan jou in 2010 doen om daardie 5kg te verloor? Nie almal sien met opgewondenheid uit na die jaar wat voorlê nie. Vir baie is die enigste voorneme vir 2010: Oorlewing. Hoe kan ek in my voornemens plek maak om vir meer mense hoop in Suid-Afrika te skep?
Klik hier en luister na die volledige program


Ruim skenking van hoenders

Helpende Hand het in Desember ʼn ruim skenking van 300kg hoender van ʼn anonieme skenker ontvang. Johann le Roux laai hier saam met Johan Jacobs van Helpende Hand die hoenders af. Baie dankie vir hierdie ruim skenking wat so kort voor Kersfees ʼn welkome gesig by ʼn aantal behoeftige ouetehuise was.

 

Engele sonder vlerke

Die 7-jarige seuntjie waaroor Helpende Hand einde verlede jaar geskryf het by sy ouma. Baie dankie aan elke persoon wat sy/haar hart en beursie oopgemaak het om aan hierdie gesin ʼn besondere bydrae te maak. Helpende Hand gaan voort om die situasie hier te monitor en die seuntjie het ook in Januarie ʼn skooltassie en skoolklere ontvang. 

 

Basiese behoeftes aan inwoners


Inwoners van Eagle’s Nest, Noord-Oos van Pretoria het teddiebere, lekkergoed, tandeborsels, waslappe en seep van Helpende Hand ontvang.

Basiese behoeftes soos hierdie is vir inwoners van plakkerskampe en skuilings, ʼn luukse en ʼn groot bederf wanneer hulle dit kry.

 

Gesin kry tuiste

Helpende Hand het aan ʼn gesin van Jireh, Pretoria, ʼn vroeë Kersgeskenk gegee. Die karavaan wat Willie en Renscke van der Merwe van Politsi verlede jaar aan Helpende Hand geskenk het, het ʼn nuwe tuiste hier gekry en sal vir tyd en wyl vir hierdie gesin die dak oor hul kop wees.

 

Student benodig basiese meubels

ʼn Belowende jong student wat aan Unisa studeer, laat nie toe dat haar moeilike omstandighede haar van haar studies weerhou nie. Sy werk baie hard en het reeds groot sukses met haar studies behaal, selfs sonder die basiese benodighede vir enige student. Sy het ongelukkig tans géén meubels in die kamer waar sy woon nie. Helpende Hand doen ʼn beroep op nuusbrieflesers om ʼn skening van ʼn bed, matras, lessenaar en stoel aan hierdie flukse student te maak. ʼn Skenking wat hierdie student se lewe verbeter, sal haar in staat stel om verder in haar studies uit te blink.

 

Skenkings aan Helpende Hand kan weeksdae tussen 08:00 en 16:30 by Helpende Hand se skenkingskantoor in Centurion afgelewer word. Hier bepaal Helpende Hand waar die onderskeie skenkings die beste aangewend kan word.

Vir meer inligting oor hoe om ʼn skenking te doen, stuur ʼn e-pos na skenkings@solidariteit.co.za of skakel 012 644 4426.

As jy 'n donasie aan Solidariteit Helpende Hand wil maak, kan jy dit ins ons bankrekening inbetaal. Neem kennis dat Helpende Hand se bankbesonderhede verander het na:

Bank: ABSA
Rekeningnommer: 407 225 0017
Tak: Centurion
Takkode: 632005

Of skakel die inbelsentrum by 0861-25-24-23