Augustus (1) Nuusbrief nr. 99

Van hondehok na Doebai Lughawe danksy beurs
Deur Juanita du Preez

As tiener het *Wikus in ʼn hondehok geslaap, maar nou is hy op pad om as demi-sjef by die Doebai Lughawe te begin werk.

Wikus se kinderjare was nie aangenaam nie. Nadat sy pa tronk toe is, moes hy, sy broer en suster by hulle ma en stiefpa gaan bly. Hulle was alkoholiste en die kinders het baie swaargekry. Wikus kon soms nie skooltoe gaan nie omdat hy erg deur sy stiefpa aangerand is. Hy moes sy eerste twee skooljare herhaal omdat hy so min by die skool was. Op 16 kon hy nie meer die huislike omstandighede by sy ma en stiefpa hanteer nie en het hy by sy broer gaan bly. Ongelukkig hy het verkeerde vriende en invloede gehad en hy het begin om dwelms te misbruik. Sy broer het hom die deur gewys.

Wikus moes daarna vir homself sorg en het in die nag skelm in ʼn hondehok buite ʼn troeteldierwinkel geslaap. Hy het werk gekry as kelner by ʼn restaurant. Nadat hy afgedank is, het hy uit wraak die restaurant beroof. Hy is vasgetrek en vir ʼn maand tronk toe gestuur.

Lees meer.

*Skuilnaam

Ter nagedagtenis aan dr. Marlize de Beer

Helpende Hand het verlede maand onverwags afskeid geneem van dr. Marlize de Beer. Sy was tot met haar dood die voorsitter van Helpende Hand se tak in Upington. Marlize het groot drome vir die tak gehad en het vroeër die jaar ʼn hartroerende storie geskryf oor hoekom sy in haar besige lewe ook tyd wou inruim om ander te help.

Marlize is op 14 Julie oorlede na ʼn maandlange siekbed. Dit was ʼn groot skok vir almal wat dié lewenslustige vrou geken het. Sy was maar 35 jaar oud.

Gedigte wat sy vir haar seun en dogter geskryf het, is op haar begrafnisbrief gedruk. ʼn Gedig oor die lewe wat sy geskryf het, het ook in die program verskyn. Haar familie het met die volgende boodskap van haar afskeid geneem:

Marlize, jy was nog altyd ons lewensanker,
ons familie se hoekpilaar.
Jy was altyd daar vir ons.
Jou liefde het jy aan ons bewys
deur jou lewenswandel elke dag. 
Jy sal altyd in ons harte bly.
Ons gaan jou mis.

Marlize sal ook by Helpende Hand en in die gemeenskap waar sy betrokke was, gemis word.

Belangrike kennisgewing: Databasis behoeftige kleuterskole

Solidariteit Helpende Hand is besig om ʼn volledige databasis van behoeftige Afrikaanse  kleuterskole regoor Suid-Afrika saam te stel as deel van Helpende Hand se Nasionale Kosblikkieprojek.

Stuur asseblief die naam, adres en kontakbesonderhede van die behoeftige kleuterskool in jou omgewing na surika@helpendehand.co.za

Vir wie se erkenning werk jy en hoe hanteer jy daardie erkenning?

Toekennings en prestasies: Jy het twee minute om ʼn toekenning te ontvang en iemand te bedank – hoe sal die bedanking klink? Ons werk ons dood vir die klop op die skouer, maar hoe hanteer ons erkenning?

Lindie gesels met Huisgenoot Tempo Toekenning-wenner Karlien van Jaarsveld asook Ronel Brink, die agter-die-skerms-ma van Karlien en Bobby van Jaarsveld. Hoe gee sy erkenning vir haar kinders en hoe hanteer sy die uitdaging om die ma te wees van twee suksesvolle kinders wat elkeen sy of haar unieke stempel wil afdruk? 

Plus: Op Vrouedag – 9 Augustus – vereer Helpende Hand ʼn groep Afrikaanse vroue wat gedurende die 20ste eeu ʼn uitmuntende bydrae tot die ontwikkeling van die Afrikaner-erfenis op kulturele, geestelike en maatskaplike vlak gelewer het. Kom vind meer uit oor hierdie merkwaardige vroue.

Bobaasberoepe

Dié week begin Karin Venter met nog ʼn reeks oor skaars en kritieke vaardighede,
spesifiek in die ingenieursbedryf.

WerkNet bied jeugkursus aan tydens Julievakansie
Deur Juanita du Preez

Die Solidariteit Beweging het tydens die Julievakansie vir 12 tieners die geleentheid gebied om meer as net ʼn gewone vakansie te beleef.

Die tieners se ouers is almal werknemers van die Solidariteit Beweging. ʼn Week lange kursus is vir hulle aangebied om hulle meer oor die wêreld rondom hulle en verskillende beroepe te leer. Helpende Hand se WerkNet het ʼn kardinale rol gespeel om dié groep jongmense se horisonne te verbreed.

Tydens die week het die tieners psigometriese toetse afgelê en beroepskeuses is met hulle bespreek. Hulle het ook meer van verskillende tipes media, soos radio en fotografie, geleer.

Lees meer.

Helpende Hand Kongres

Op Vrouedag, 9 Augustus, vereer Solidariteit Helpende Hand ʼn groep Afrikaanse vroue wat gedurende die 20ste eeu ʼn uitmuntende bydrae tot die ontwikkeling van die Afrikanererfenis op kulturele, geestelike en maatskaplike vlak gelewer het.

Die eretoekennings word tydens ʼn spoggeleentheid by die Vrouemonument in Bloemfontein oorhandig. 

Sandra Prinsloo, vir haar uitstaande bydrae tot die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf as regisseur en aktrise.

Dr. Rina Venter, die eerste vroueminister in die Suid-Afrikaanse kabinet. Sy was van 1989 tot 1994 die minister van nasionale gesondheid en bevolkingsontwikkeling in oud pres. F.W. de Klerk se kabinet.

Snow Cruywagen, die hoofbeskermvrou van Die Voortrekkers.

Lees meer.

Bring asseblief u eie stoel saam.

Kanadese dogtertjie se hart gaan uit vir Helpende Hand
Deur Juanita du Preez

Marieth Coetzer is ʼn Kanadese burger van Calgary aan die Kanadese ooskus, maar sy praat vlot Afrikaans en is baie lief vir Suid-Afrika, die land wat sy as haar vaderland beskou selfs al het sy nog nooit hier gebly nie.

Sy is 12 jaar oud en het al regoor Europa gebly. Haar Pa is ʼn meganiese ingenieur, haar Ma is ʼn tuisteskepper en sy het ʼn jonger boetie, Pieter-Hendrik. Haar hart gaan uit na “haar mense” sê haar tannie, Joané Jacobs. In die aand hou die gesin huisgodsdiens in Afrikaans en Vrydae se tuisonderrigprogram word in Afrikaans aangebied.

Lees meer.

Algemene uitnodiging - Helpende Hand Kongres op 9 Augustus

Plek: Die Vrouemonument, Monumentweg, Bloemfontein
Datum: 9 Augustus 2011
Tyd: 10:30 vir 11:00
RSVP: vena@helpendehand.co.za

Wees deel van hierdie geskiedkundige geleentheid. Bring asb. u eie stoel saam.

Teken in op die nuusbrief