Katriena, vertel!
Nóg meer kwinkslae en stories
Die char van die halwe huis in Tamboerskloof - is terug!
Katriena, vertel! bevat ’n keur uit die drie Katriena-bundels mét die bonus van ’n handvol splinternuwe verhale. Met Katriena het Riana Scheepers ’n onvergeetlike karakter geskep wat almal in Suid-Afrika laat lag het – vir onsself!
Katriena het ’n ruim hart vol deernis met die wêreld: vir bergies en weduvroue en vroue wat alleen die wêreld moet aandurf, maar veral vir die mêrrem van die halwe huis en haar twee onhebbelike seunskinders. Met haar onblusbare vermoë om stories te vertel, pluk Katriena die lewe se skeefkante reg; of dit nou is om te vertel van die man wat ’n Namakwalandse plaas, onder ‘n skuilnaam, geërf het, of van die genade wat uit ’n leivoor kan kom, of van die vrou wie se geraamte so diep in haar lyf sit ...
Riana Scheepers het in 2006 die Rapportryers se Erepenning vir die drie Katriena-bundels ontvang as erkenning vir die bydrae wat dié vrolike verhale tot interkulturele samewerking en begrip onder die Suid-Afrikaanse publiek tot gevolg gehad het.
Riana is ’n produktiewe en veelsydige skrywer. Sy ontvang verskeie toekennings vir haar skryfwerk, onder meer die ATKV-Prosaprys, FAK-prys, Eugène Marais-prys en die ATKV-Kinderboekprys. Die Nederlandse vertaling van Blinde sambok, Scorpionkind, is op die kortlys vir die Vlaamse Kinderjurie-prys (2004). In 2006 ontvang sy vier toekennings vir haar werk. Die avonture van Wilde Willemientjie kry die KKNK se Kanna-prys vir die Beste Kinderproduksie. Sy ontvang die Rapportryers se Erepenning vir haar werk en kry die Patrick Petersen Gedenkprys vir haar totale oeuvre. Vir die kulturele bydrae wat haar bundel plaasverhale, Die melkweg het ’n ster laat val, in die landbougemeenskap gelewer het, kry sy ’n spesiale toekenning van die Departement van Landbou (Wes-Kaap). In 2008 ontvang sy die gesogte Rapport/ City Press Prestige-toekenning as Vrou van die Jaar.
Riana besoek die buiteland gereeld: as reisiger en skrywer, of as akademikus. Sy is passievol betrokke by geletterdheidsprojekte en die begeleiding van opkomende skrywers. Sy is ’n gewilde spreker wat dikwels as motiveerder optree en vervul graag die rol van mentor vir mense, veral vroue, wat ’n hupstoot in die lewe nodig het.
Befaamde skrywer, beslis, maar Riana is ook veel meer: plaaswerker, motiveerder, wynboer, restoureerder en aanbidder van die natuur. As wynboer is sy nou betrokke by die bemarking van De Compagnie se wyn en brandewyn, dien op die raad van verskeie instansies wat taalbemagtiging doen en die verantwoordelike gebruik van brandewyn promoveer. Saam met Johann, haar man, is hulle steeds besig om aan verlate volkshuise, ’n hartbeeshuis, klipkrale, stalle, skure en ’n spookhuis te restoureer. Daarom woon sy ook in die Tankwa-Karoo in ’n Karoohuis, en in die suide van Namibië in ’n spookhuis.
Katriena, vertel! is by toonaangewende handelaars asook direk by LAPA Uitgewers beskikbaar. Kontak LAPA by 012 401 0700 of besoek ons webblad: www.lapa.co.za. |