Geskiedenis

Verkorte artikel oor die ontstaansgeskiedenis van Solidariteit Helpende Hand deur dr. Wessel Visser, Universiteit van Stellenbosch

“As die ongeluk mens ry, soek jy nie net materiële hulp nie, jy soek ook meer: jy soek vriendskap en simpatie van jou medemens. Jy verlang as’t ware belangstelling van die kant van jou medemens; jy soek bewyse dat jou medemens graag wil hê dat jy moet herstel omdat hy nog jou vriendskap nodig het. Helpende Hand help dus nie net die liggaam van die ongelukkige nie, maar ook die gees: dit beur op, bemoedig, versterk… Dit is jul mooiste besitting, want dit is selfverheffend.

Hierdie aanhaling is ʼn treffende beskrywing van die etos en empatie van Helpende Hand wat gebore is om die nood van Afrikanermynwerkers te help verlig. Helpende Hand het in 1949 sy oorsprong gehad, nadat ʼn nuwe uitvoerende bestuur onder leiding van Daan Ellis die vorige jaar die bestuur van die vakbond oorgeneem het. In daardie stadium het die vakbond nog oor geen statutêre pensioenfonds beskik nie en was die bestaande Pneumokoniosewet (mynteringswetgewing) totaal ontoereikend. Gevolglik het die nuwe bestuur ʼn spesiale welsynskomitee en welsynsdepartement op die been gebring. Die nuwe afdeling het ʼn afbeelding van helpende hande as simbool gebruik wat spoedig as die MWU se Helpende Hand bekend sou staan. Servaas de Wet (wat in 1955 ʼn senator vir die Nasionale Party geword het) is as die eerste welsynsbeampte aangestel. Volgens De Wet was die MWU in daardie stadium die enigste vakbond in die land wat oor ʼn welsynsafdeling beskik het. Sy leuse vir Helpende Hand was: “Elkeen van ons gaan maar net een keer deur hierdie lewe! As ek dus enige weldaad aan ʼn minderbevoorregte medewerker kan bewys, laat ek dit NOU doen!”

Helpende Hand het ten doel gehad om persone wat geen ander uitkoms gehad het nie, uit dringende nood te help. Ten einde geld vir welsynsprojekte te genereer, het die MWU-uitvoerende bestuur aanvanklik £10 000 teen 5% rente ten gunste van die welsynsdepartement belê. Dit het ʼn jaarlikse vaste inkomste van £500 vir die Helpende Hand bedra. Van die eerste welsynsprojekte wat sodoende van stapel gestuur is, was die aankoop van ʼn rolstoel en ʼn naaldwerkmasjien vir twee mynwerkers wat as gevolg van beroepsongelukke ongeskik vir mynwerk geraak het. ʼn Strandfonds is ook in die lewe geroep om sodoende ʼn kusvakansieoord te bekom waar die kinders van MWU-lede hulle vakansies kon deurbring.

In Augustus 1949 het die welsynsprojek ʼn interessante entrepreneuriese wending geneem toe Helpende Hand dit vir die weduwee van ʼn mynteringlyer moontlik gemaak het om ʼn kursus in die poppemaakkuns te voltooi om haar in staat te stel om daardeur haar inkomste aan te vul. Hierdie poppemaaktuisnywerheid het uiteindelik tot die Transvaal Doll and Ornament Company in Alberton gegroei.

Die MWU-uitvoerende bestuur het £1 000 bewillig om die poppefabriek uit te brei. Die fabriek, wat ʼn groot verskeidenheid van popsoorte vervaardig het, is later na Boksburg verskuif. Op sy hoogtepunt het die Tranvaal Doll and Ornament Company 14 vroue (weduwees of afhanklikes van ongeskikte mynwerkers) en drie mans (mynteringlyers) in diens gehad. Die fabriek se produkte was gesog en is selfs by die Boksburgse tentoonstelling uitgestal.

Helpende Hand-komitees is in verskeie myndistrikte, soos die Oos-Rand, die Sentraal-Rand en die Vrystaat gestig, aangesien die nood hoog en die behoefte aan welsynshulp groot was. Aan die nabye Oos-Rand op Boksburg, byvoorbeeld, het die Helpende Hand-dienstak aldaar fondse alreeds so vroeg as 1952 ingesamel vir Kersgeskenkmandjies met lewensnoodsaaklikhede aan behoeftige gesinne. ʼn Ander interessante fondsinsamelingsinisiatief vir Helpende Hand het uit die verkope vanuit hulle mobiele kafeterias van die destyds bekende Braganza-tee en Senator-koffie handelsmerke gespruit. Op sý beurt was die oprigting van hierdie tee- en koffiehandelsmerke weer die inisiatief van die bekende Afrikanerfilantroop en entrepreneur, dr. Anton Rupert, wat vir daardie doel die Eerste Nasionale Tee- en Koffiefabrieke Beperk, as bemagtigingsprojek vir Afrikanervroue op die been gebring het.

Teen die 1990’s was dit duidelik dat Helpende Hand se behoeftebepaling by die oorspronklike doelstellings aangepas is. Volgens MWU-Nuus was bydraes tot Helpende Hand om die volgende redes noodsaaklik: As gevolg van regstellende aksie het werksgeleenthede vir wit werkers algaande verminder sodat selfs hoogs gekwalifiseerde en ervare werkers werkloos geraak het. In sommige gevalle kon kinders nie meer skool toe gestuur word nie, omdat daar nie kos en klere in sodanige huishoudings beskikbaar was nie.

Die MWU kon uiteraard nie die smeltkroes van ingrypende verandering van die Suid-Afrikaanse politieke, sosiale en ekonomiese landskap teen die einde van die 20ste eeu ontsnap nie. Die radikaal veranderde sosio-ekonomiese en politieke realiteite wat ná 1994 begin intree het, het die vakbond gedwing om sy visie, strategieë en strukture deurtastend te herbedink en te herontwerp. Sedert 1997 is daar dan ook begin met die stelselmatige en fundamentele omskakeling van die MWU van ʼn gewone bedryfsvakbond tot ʼn moderne, toekomsgerigte arbeidsdiensleweringsorganisasie.

In 2001 het die vakbond as MWU-Solidariteit bekend gestaan. ʼn Verdere naamsverandering tot Solidariteit het in 2002 gevolg, om aan te dui dat die organisasie voortaan vir lede van alle nywerheidsbedrywe en beroepe oop was wat sy doelstellings ondersteun het.

Ten einde aan die uitgesproke doelwit van dienslewering aan sy lede te voldoen, is die vakbond se Helpende Hand in 2001 ook herloods en sou voortaan as Solidariteit Helpende Hand bekend staan. Dit sou as ‘n onafhanklike entiteit afsondelik van die vakbond funksioneer. Sedert sy herloodsing het die Helpende Hand dan ook met rasse skrede vooruit gegaan en verskeie innoverende projekte geïnisieer. Sodoende is die edele welsynsroeping en doelwitte van die oorspronklike stigters van die Helpende Hand met onderskeiding voortgesit en verder uitgebrei.

In 2005 is die Solidariteit Helpende Hand by die Registrasiekantoor vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom as ‘n volwaardige Artikel 21-maatskappy en by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling as ‘n organisasie sonder winsbejag geregistreer. Deur dinamiese bestuurspersoneel het die organisasie van krag tot krag gegaan. In dieselfde jaar het die Helpende Hand weereens sy naam gestand gedoen. Met die likwidasie van die DRD-goudmyn op Stilfontein is 6 513 werkers meteens sonder heenkome gelaat. Solidariteit het gehelp om, in samewerking met die Stilfonteinse gemeenskap, meer as R3 miljoen en sowat R1 miljoen se kosvoorraad in te samel waarvoor geld ook uit die Helpende Hand gekanaliseer is. Dit het dit moontlik gemaak om ’n noodvoedingskema, onder andere skoolvoedingsprojekte, aan sowat 3 000 gesinne en indiwidue, ongeag kleur, vir vyf maande te kon volhou.

Teen 2006 het die Helpende Hand hom toegespits op voedings- (38 voedingsprojekte by skole ten bedrae van R200 000), kleding-, en behuisingsprojekte (veral noodleniging in plakkerskampe en skuilings waar hoofsaaklik Afrikaanssprekendes gewoon het); studiehulp aan kinders van Solidariteit-lede; noodhulp aan behoeftige pensioenarislede; bystand aan kinderhuise, ouetehuise, tehuise vir gestremdes en ander diensorganisasies, asook gemeenskapsontwikkeling en –bemagtiging. Die Helpende Hand het ook as depot begin dien waar maandeliks duisende rande se skenkings afgelewer is. Die skenkings het onder andere klere, kos en huishoudelike goedere ingesluit. Verskeie bekende akteurs en vermaaklikheidskunstenaars is ook by die organisasie se fondsinsamelingspogings betrek om byvoorbeeld winterkomberse aan behoewendes uit te deel.

Gedurende 2007 het die fonds se kinderprojekte ‘n sentrale punt van sy werksaamhede gevorm. Die projekte het gepoog om kinders toe te rus om eendag suksesvol die werkmark te betree, aangesien daar geglo is dat as jongmense die regte beroepskeuses maak die siklus van armoede verbreek sal kan word. Probleme soos kinderontvoering, die beskerming van straatkinders, die opgradering van kinderondervragingskantore by polisiestasies, asook inisiatiewe om prostitute en dwelmverslaafdes te rehabiliteer, het deel gevorm van hierdie projekte. Daarby het die Helpende Hand vir die eerste keer R1 miljoen aan beurse aan meer as 100 studente uitbetaal. Altesaam 40% van hierdie fondse was vir akademiese studie en die res vir beroepsopleiding. Die behoefte onder Suid-Afrikaners het egter só groot geword dat die Solidariteit Helpende Hand-beursfonds hom daarop begin toespits het om uit te brei sodat nie slegs Solidariteit-lede nie, maar alle voornemende studente in Suid-Afrika daarby kon baat vind. Verder is daar saam met gemeenskapsrolspelers ‘n tuisversorgingskursus ontwikkel vir mense wat ‘n passie het om bejaardes te help. Die kursus het betrokke studente ook in staat gestel om vir hulleself ‘n beter toekoms te skep. ‘n Verdere lofwaardige inisiatief was die skooltassieprojek, wat in 2007 van stapel gestuur en in 2008 uitgebrei is, om behoeftige kinders (hoofsaaklik Graad 1-leerders) in skole in die Wes-Kaap en Gauteng van skooltassies met skryfbehoeftes te voorsien.

In 2008, 59 jaar sedert sy nederige ontstaan in 1949, is Dr Danie Langner is as die eerste voltydse uitvoerende direkteur aangestel. Onder sy leiding het Solidariteit Helpende Hand in ‘n kort tydjie gegroei tot ‘n organisasie met 21 personeellede en ‘n streekkantoor in die Wes-Kaap. Helpende hand is ingrypend herstruktureer en strategiee is geïmplementeer om die organisasie se volhoubaarheid in die 21ste eeu te verseker. ‘n Breë nasionale en internasionale netwerk is gevestig. Alhoewel die organisasie kon spog met omvangryke en prysenswaardige welsynsprojekte, het dit steeds getrou gebly aan die Helpende Hand se oorsponklike roeping, “want dit is selfverheffend”.