Werknet

Werkloosheid is ʼn omvattende probleem en die oplossing moet op verskillende maniere aangespreek word. Gevolglik het Solidariteit Helpende Hand onlangs ʼn nuwe diens, Werknet, van stapel gestuur, juis om werkloosheid onder Afrikanermense aan te spreek.

Werknet het die volgende dienste beskikbaar en ons wil julle en jul gemeenskappe uitnooi om daarvan gebruik te maak:

Vir werksoekers:

Werksoekers kan hul CV’s op www.werknet.co.za gaan registreer. Hierdie diens is gratis en in Afrikaans beskikbaar. Wanneer ʼn CV hier geregistreer is, kry die werksoeker toegang tot duisende werksgeleenthede wat regoor die land adverteer word.

Vir skoolkinders:

Werknet wil jongmense vir die arbeidsmark voorberei. Ons moedig jongmense aan om hulself in ʼn skaars- en kritiese vaardigheid óf ʼn entrepreneursrigting te bekwaam, om sodoende te verhoed dat hulle op die langtermyn slagoffers van armoede word. Werknet bied werkswinkels, ʼn entrepreneurskonferensie, werkplekbesoeke asook professionele psigometriese toetse teen bekostigbare pryse aan. Skoolkinders en onderwysers wat lewensoriëntering as vak aanbied, kan gerus www.loopbaan.co.za vir meer inligting besoek.

Professionele psigometriese dienste:

Die professionele beroepsleidingsdiens wil jongmense voorberei om uitstekende besluite oor die toekoms te maak en sodoende God se roeping vir hul lewe te vervul. Die pryse is tot 300% goedkoper as markverwante dienste. Helpende Hand kan die toetse in jou tuisdorp kom aanbied, mits daar agt of meer jongmense is wat van die diens gebruik wil maak.

Daar is  ʼn verskeidenheid pakkette beskikbaar. Elke pakket is saamgestel om individuele behoeftes aan te spreek:

Holistiese beroepspakket: R600
Vakkeuse pakket: R350
Skoolverlater- en jongmens pakket: R500
Aanlegtoets (groep van 100 – 300 leerders): R75 per leerder

Stuur ʼn e-pos na werknet@helpendehand.co.za vir meer inligting of skakel Annette Taljaard by 012 644 4390 om ʼn afspraak te maak.

Entrepreneurs:

Werknet bied opleiding aan gemeenskappe wat ʼn onderneming in hul eie omgewing wil begin.  Die fokus van die opleiding is om suksesvolle sakemanne en vrywilligers in die gemeenskap in staat te stel om as mentors vir ʼn nuwe entrepreneur op te tree. Indien persone spesifieke sakemanne in hul omgewing as mentors geïdentifiseer het, kan hulle ʼn e-pos stuur na werknet@helpendehand.co.za vir meer inligting.