Solidariteit se Helpende Hand verryk lewens
MEYERTON STER 13 Feb 2012 Bladsy 3
MEYERTON. – Solidariteit se Helpende Hand-tak in die dorp word tans vanuit tydelike geriewe by die Mooihawens Tehuis vir Haweloses bedryf.
Danksy die hulp van verskeie borge, kon hulle die lewens van minderbevoorregtes en eensames tydens Desember en Januarie verryk. Met hulle optrede het die dames die bekende skoendoosprojek met die senior burgers van die Shalom-ouetehuis gedeel en verskeie harte is verbly met die toiletware wat uit die vol skoendoos gekom het.
Die Suid-Gauteng streekkantoor van Helpende Hand het vir die 30 inwoners van Mooihawens elk ‘n Kersgeskenk gegee wat verlede jaar tydens liggiefees met `n Woord en Lied-program by die Meyerton-Oos gemeente aangebied is.
Toe die skole vir die nuwe jaar open, is 35 leerlinge van die Laerskool Japie Greyling in Daleside elk met `n skooltas ter waarde van R200 verras. Dit was deel van Helpende Hand se skooltassieprojek.
Die geld wat aangewend is om al hierdie te kon doen, is alles skenkings van donateurs van onder meer die ATKV-tak van die Vaaldriehoek, W.K. Kriel, L. van Schoor, S.J. Raubenheimer, R.K. Macfowan, F. Potgieter, CC Engineering, Marina Ramloul, Discounter Pandwinkel, Zuidersma Engineering, G. Grobler van Van Reenen Apteek en Willem en Thea van Rensburg.
“Vanjaar is propvol uitdagings. Eerstens is dit van kardinale belang dat ons ‘n plek het waar ons al die artikels wat ons ontvang, kan stoor. Dit kan ‘n huis of groterige kantoor of pakhuis wees. Tweedens sal ons span weer na ons goedgesinde donateurs gaan vir die projekte van hierdie jaar.
“Ons grootste projek is om ‘n beursfonds te stig vir naskoolse studies vir jongmense wat kwalifiseer. Ons verskaf ook voortdurend klere en kospakkies aan persone wat kwalifiseer en ook deur ander instansies na ons verwys word. Ons wil graag ook die publiek daarvan bewus maak dat hulle hul tweedehandse klere, meubels en ander verbruiksartikels aan ons kan skenk. Dit word dan weer verkoop om ons fondse te versterk,” se mnr. Nico van Eeden.
Enigeen wat ‘n skenking wil maak, ‘n perseel beskikbaar het of by die Helpende Hand-span wil aansluit, kan Van Eeden by 082 822 0485 of Johan Kruger by 083 407 2836 kontak.
Op die foto’s: Met die opening van die skool het 35 leerlinge van die Laerskool Japie Greyling elk ‘n nuwe skooltas ontvang. Agter van links is mev. Martie Putter (Helpende Hand) en mnr. Lucas van der Walt (skoolhoof). Voor van links Is Kelly Nel, Luzuko Nobatana en Dominique Venter.
Mevv. Fredrika Loots en Marie Nagel saam met die twee werkers van Helpende Hand, mevv. Martie Putter en Leonora Willemse.
‘n Paar kinders van Mooihawens met hul Kersgeskenke.










