NG Kerk Hartenbos skenk R50 000
Mosselbaai Advertiser Webwerf 10 Februarie 2012
Lees die berig op die Mosselbaai Advertiser se webwerf
MOSSELBAAI NUUS – Solidariteit Helpende Hand in die Suid-Kaap het onlangs ‘n skenking van R50 000 van die NG Kerk Hartenbos ontvang. Die fondse sal, op versoek van die kerk, vir ‘n streeksbeurs aangewend word.
Helpende Hand is ‘n doen-organisasie wat jongmense voorberei vir die werkende wêreld, met ‘n spesifieke fokus op ‘n groot Afrikaanse beursplatform, en wat idees oor die bekamping van maatskaplike, geestelike en kulturele armoede ontwikkel. Dit word alles breedvoerig beskryf deur die konsep van opheffing-deur-opleiding.
“Die stryd teen armoede is ‘n stryd vir goeie opleiding en die voorstel vir ‘n streeksbeurs om ‘n student uit die Suid-Kaap die geleentheid te gee om verder te studeer, val loodreg in by Helpende Hand se beleid,” sê Mariaan Mans, die Suid-Kaap se streekorganiseerder. “Die Suid-Kaap streek is baie dankbaar vir hierdie belegging in ‘n jongmens se toekoms.”
Die geld is ingesamel deur ‘n kollekte wat die NG Kerk Hartenbos op Kersdag tydens dienste by die Hartenbos Amfiteater en die kerk opgeneem het. Die skenkers is vooraf ingelig dat die fondse aan Helpende Hand en nog ‘n organisasie geskenk sal word.
‘n Rekord bedrag van R117 000 is ingesamel, waarvan R50 000 aan Helpende Hand geskenk is.










