Meer as net ‘geskenke’
BEELD (Noord Wes) 25 Jan 2012 Bladsy 4
Honneursstudente van die departement verbruikerswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit (NWU) het einde verlede jaar opvoedkundige speelgoed aan Solidariteit Helpende Hand se Beroepsleidingsdienste geskenk.
Die skenking kom nadat me. Annchen Mielmann, ‘n dosent, voorgestel het die groep raak betrokke by ‘n gemeenskapsprojek vir kinders wat toegespits is op volhoubare ontwikkeling deur opvoedkundige speelgoed, pleks van gewone geskenkpakkies, vir kinders te gee.
Die studente het vooraf nagevors watter speelgoed kinders doeltreffend stimuleer en verdere ontwikkeling aanmoedig, en daaruit ‘n raamwerk opgestel van hul doelwitte.
Onder leiding van me. Roelien Havenga, ‘n student, het die groep binne twee weke bykans R10 000 ingesamel deur borgskappe en daarmee opvoedkundige speelgoed gekoop.
“Die besef van watter uitwerking opvoedkundige speelgoed op die lewe van kinders uit minderbevoorregte gemeenskappe kan hê, het die studente diep geraak,” het Mielmann gesê.
Die opvoedkundige speelgoed is versprei aan vroue wat Helpende Hand en die Stigting vir Bemagtiging vir Afrikaans se opleiding vir dagmoeders voltooi het.









