Mediaverklaring: Nuwe Helpende Hand-tak in Wes-Kaap sien om na bemagtiging van bejaardes
Solidariteit Helpende Hand
4 Februarie 2012
Nuwe Helpende Hand-tak in Wes-Kaap sien om na bemagtiging van bejaardes
In ʼn poging om ʼn verskil te maak in die groeiende behoeftes onder bejaardes, het Solidariteit Helpende Hand Wes-Kaap ʼn Seniorsorgtak in Goodwood gestig wat spesifiek op die bemagtiging van senior burgers en die identifisering van al hulle behoeftes sal fokus. Die tak se doel is om bejaardes in die gemeenskap op só ʼn wyse te bemagtig, dat daar ʼn volhoubare en positiewe verandering in hulle lewensomstandighede sal wees. Dié ondersteuning sal ooreenkomstig met Helpende Hand se breë benadering op kulturele, maatskaplike en geestelike opheffing geskied.
Die seniorsorgtak se bedrywighede het reeds in aanvang geneem en hulle volgende projek is om vandag bome by die Hernus Kriel Seniorsorgsentrum in Parow te plant. Die bome is deur ondersteuners van die sentrum geskenk om die terrein te verfraai en om aan die inwoners skadu te bied.
Die tak sal ook betrokke wees met verskeie ander ad hoc-projekte wat die sentruminwoners se lewens sal verryk. Een van die projekte wat beoog word, is om ʼn groentetuin aan te lê.
Helpende Hand is ʼn doen-organisasie wat idees oor die bekamping van maatskaplike, geestelike en kulturele armoede ontwikkel. Om in hierdie doelwit te slaag, word dienslewering aan die hand van die organisasie se waardeketting – kinders, jongmense, werksoekers, werknemers en afgetredenes – ontwikkel en gelewer.
Die Helpende Hand Wes-Kaap Seniorsorgtak se langtermyndoelwit is om die bemagtiging van senior burgers na ander seniorsorgsentrums in die Wes-Kaap uit te brei.
Mediaskakelbeampte:
Juanita du Preez
Solidariteit Helpende Hand
Tel: 012 644 4390
Sel: 074 500 3915
E-pos: juanita@helpendehand.co.za











