Mediaverklaring: Helpende Hand se Klein Karoo Jeugtak ondersteun kankerlyers se stryd
Solidariteit Helpende Hand
8 Februarie 2012
Helpende Hand se Klein Karoo Jeugtak ondersteun kankerlyers se stryd
Solidariteit Helpende Hand se Klein Karoo Jeugtak het op 4 Februarie deurnag aan die Relay 4 Life-wedloop in die omgewing deelgeneem om hulle ondersteuning vir kankerlyers se stryd te wys.
Dié wedloop word gehou ter nagedagtenis aan mense wat oorlede is aan kanker en ter viering van die wat dit oorleef het. Fondse word ingesamel vir bewusmaking van en navorsing oor kanker.
Die Jeugtak is ook nou betrokke by gemeenskapsopheffingprojekte in die omgewing. Hulle neem behoeftige kinders gereeld op uitstappies en bederf hulle wanneer hulle verjaar met geskenke en eetgoed.
Die tak is betrokke by verskeie ander fondsinsamelingsprojekte wat bydra om die gemeenskap op te hef en te bemagtig.
Hoewel Helpende Hand se fokus opheffing deur opleiding is, kan die organisasie dit nie ten volle deurvoer as daar nie ook omgesien word na die onmiddellike noodverligting in die omgewing nie. Daarom is Helpende Hand se takke ook van tyd tot tyd betrokke by liefdadigheidsprojekte.
Enigeen wat by die Klein Karoo Jeugtak betrokke wil raak kan die voorsitter, Nelmare de Villiers skakel op 082 726 4041.
Mediaskakelbeampte:
Juanita du Preez
Solidariteit Helpende Hand
Tel: 012 644 4390
Sel: 074 500 3915
E-pos: juanita@helpendehand.co.za











