Helpende Hand vier Moedertaaldag met verhale van Afrikaanse helde by Laerskool Louis Leipoldt
Ter viering van Internasionale Moedertaaldag vandag, het Solidariteit Helpende Hand die leerlinge van Laerskool Louis Leipoldt in Lyttelton, Centurion, met verhale oor Afrikaanse helde trakteer.
Tydens die geleentheid het dr Dirk Hermann, voorsitter van Helpende Hand se direksie, die verhaal van die dapper Afrikaanse seun Japie Greyling, voorgelees. Die verhaal is terselfdertyd treffend deur ses leerlinge van die skool opgevoer.
Na die voorlesing het die opkomende sanger en ambassadeur van Helpende Hand se Beroepsleidingsdienste, Andries Hendrik Potgieter, die kinders met ou bekende Afrikaanse liedjies soos “Bobbejaan klim die berg” en “Ta’ Hessie se wit perd” vermaak. Die kinders het uit volle bors saamgesing.
Dr Hermann het ouers en onderwysers aangemoedig om meer Afrikaanse stories te vertel sodat Afrikaans kan voortleef.
“Nie net stories nie, húlle stories. Elke kind het ʼn storie en ons moet seker maak dat ons ʼn kultuur skep waar ons vir die kinders hulle stories leer,” sê dr Hermann. “Geskiedenis vorm ʼn kind en sê vir hom of haar: ‘Hier is jou plek’. Ons oproep is dat alle skole die geskiedenis reg sal oorvertel.”
Die geleentheid is ter ondersteuning van Vriende van Afrikaans se veldtog oor moedertaalonderrig gehou.










