Helpende Hand se Note-vir-Nood-fees bied platform vir jong entrepreneurs

COURIER 10 Feb 2012 Bladsy 11

Solidariteit Helpende Hand se Gauteng-Noord-streek bied op Saterdag, 25 Februarie 2012 die Note-vir-Nood-fees by die Heartfelt Arena in Thaba Tshwane aan.

Helpende Hand is ‘n doen-organisasie wat jongmense voorberei vir die wêreld van werk, ‘n groot, Afrikaanse beursplatform bedryf en idees oor die bekamping van maatskaplike, geestelike en kulturele armoede ontwikkel. Die organisasie se oorhoofse fokus kan breedweg saamgevat word as opheffing-deur-opleiding.

“Die stryd teen armoede is ‘n stryd vir goeie opleiding. Deur kinders van jongs af al blootstelling aan werkskeppings- en entrepreneurskapgeleenthede te gee, gee jy hulle ‘n hupstoot uit armoede,” se Mariana Kriel, streeksorganiseerder in Gauteng-Noord. “Ons gaan stalletjies teen R50 elk aan skoliere verhuur sodat hulle entrepreneursvaardighede geslyp kan word. Daar sal pryse wees vir die leerders met die beste stalletjie, besigheidsplan en besonderse entrepreneursvaardighede.”

Groot name in die musiekbedryf soos Bobby van Jaarsveld, Ronel Erasmus en Onbeskaamd, sal tydens die geleentheid optree. Ander kunstenaars sluit in Blue House, Andries-Hendrik Potgieter, Esti van Rooyen, Liza Bronner, Gustav van Aardt en Quentin Prinsloo. Enige kunstenaars wat ook betrokke wilraak, kan met die organiseerder Mariana Kriel, in verbinding tree.

Daar sal verskeie kosstalletjies by die fees wees en prystrekkings sal gehou word. Enigiemand wat as borg by die fees wit betrokke raak, kan Mariana skakel.

Die koste vir die fees beloop R80 per volwassene en R40 per skoolgaande kind. Kaartjies kan tot 13 Februarie aanlyn by www.itickets.co.za of telefonies by 0861 000 291 bespreek word.

Mariana Kriel is die organiseerder en haar kontakbesonderhede is: 084 952 5837 mariana@helpendehand.co.za.

Juanita du Preez, Mediaskakelbeantpte: Solidariteit Helpende Hand