‘Leer kinders oor geskiedenis’

2012-02-21 22:53

Elaine Swanepoel

Lees die berig aanlyn op Beeld se webwerf

“Ouers moet kinders meer (geskiedkundige) stories vertel,” het dr. Dirk Hermann, voorsitter van Solidariteit se Helpende Hand, gister by die Laerskool Louis Leipoldt in Centurion gesê.

Hermann het die grondslagfase (gr. 0 tot gr. 3) in die lig van Wêreldmoedertaaldag toegespreek en gewys op die belangrikheid van stories, veral geskiedkundige stories, in die vorming van kinders se identiteit en die daarstel van goeie waardes.

“Dis belangrik dat kinders hul en hul voorouers se geskiedenis ken sodat hulle weet waar hulle in die wêreld inpas,” het hy gesê.

Volgens hom word geskiedenis dikwels verdraai en skeef oorgedra. Dit is dus belangrik dat kinders ’n gebalanseerde weergawe daarvan hoor.

Verteenwoordigers van Solidariteit Helpende Hand en leerlinge van die laerskool het later die storie van Japie Greyling, die Afrikaanse kinderheld, in ’n toneelstuk uitgebeeld.

Japie het geweier om in die Tweede Vryheidsoorlog (Anglo-Boereoorlog) Britse troepe te sê waar sy pa en sy kommando is, selfs toe hulle gedreig het om hom te skiet.

AfriForum het opnuut Afrikaanssprekendes gevra om die Red Afrikaanse skole-veldtog te ondersteun. Dié veldtog is in Januarie begin teen die regering se hernude pogings om Afrikaans as onderrigmedium uit skole te verdring.