’n Kind uit ‘n behoeftige agtergrond het genoeg struikelblokke om te oorkom, hy/sy moet nie nog verder benadeel word omdat sy/haar ouers nie eers ’n skooltassie of die basiese skryfbehoeftes kan bekostig nie.
Elke graad 1 het tog die basiese skrybehoeftes nodig om sy loopbaan te begin. Daarom het Helpende Hand besluit om toe te sien dat behoeftige graad 1’s regoor Suid-Afrika ‘n skooltassie ontvang.
Solidariteit Helpende Hand het in 2008 die eerste keer hierdie enorme projek aangepak
Na slegs drie jaar het 9 000 behoeftige Afrikaanssprekende graadeens reeds by die projek gebaat. Die behoefte aan basiese skryfbehoeftes en skoolgereedskap is egter vyf keer groter as die middele wat Helpende Hand tot nou toe beskikbaar kon stel.
Aanspreek van die behoefte
Liefde kom in drukkies en aandag en tyd en moeite, maar soms is dit blou en tjokkenblok gepak met potlode, kryte,’n liniaal en’n uitvieër.’n Skooltassie is’n liefdegeskenk met alles wat ’n behoeftige kind nodig het om te voel dat hy/sy aan ‘n groep behoort en’n gelyke wegspringkans het.
Helpende Hand se Skooltassieprojek spreek op die oog af ‘n eendimensionele behoefte aan skryfbehoeftes aan, maar ‘n skooltassie is soveel meer as gereedskap vir skool. Dis’n simbool van hoop.’n Graadeentjie skep moed as gevolg van daardie tassie in haar hand, want daai tassie is haar bewys van jou geloof in haar potensiaal,’n bewys dat jy saam met haar die nuwe uitdaging van groot skool betree.’n Skooltassie getuig van betrokkenheid, liefde en omgee, en dit laat ‘n kind moed skep om self elke ontwikkelingsoomblik met altwee hande aan te gryp.
Die belangrikheid van basiese skoolgereedskap word deur die Verenigde Nasies (VN) bevestig en onderstreep:
1. Volgens die VN se Kinderfonds maak die eerste drie jaar van ‘n kind se skoolopleiding ‘n noemenswaardige verskil aan gesinsbeplanning, gesondheidsorg en ‘n gesin se inkomste.
2. In baie lande regoor die wereld sal ‘n kind skooltoegang gewyer word indien hy/sy nie die basiese opvoedkundige toerusting het nie. Dit dwing ‘n kind in ‘n lewe van ongeletterdheid en beteken hy/sy bly vasgevang in die armoedesiklus.
3. Die VN het ook bevind dat opleiding een van die grootste faktore is wat ‘n impak het op gesondheid, insluitend babasterftes en oorlewingsverwagting tydens geboorte asook totale vrugbaarheid. Dus kan’n skooltassie met skryfbehoeftes en selfs’n gesondheidspakket ‘n ewigdurende en positiewe uitwerking op’n kind se lewe hê.
Die ontstaan van die Nasionale Skooltassie Projek
Die Skooltassieprojek het sy oorsprong gehad nadat die skoolhoof van Laerskool Generaal Nicholaas Smit in Pretoria, mnr Chris Sealie, met die idee vorendag gekom het. Die Solidariteit Helpende Hand is toe reeds by die skool en tientalle ander skole se voedingsprojekte betrokke. Mnr. Sealie het vertel van die agterstand wat ’n graad 1 leerling het indien hy/sy nie die nodige skryfbehoeftes het nie. Solidariteit Helpende Hand het besluit om sy skool te help, maar na gesprekke met verskeie Afrikaanse skole in Pretoria is daar besef dat die probleem die afgelope aantal jare ongelooflik gegroei het. Na verdere navorsing is daar gesien dat die probleem nasionaal op ons neergedaal het. Afrikaanse mense onderskat die armoede in hulle eie gemeenskap.
Om ‘n bydrae te maak of om ‘n tassie te borg, klik hier.
