Sê nee vir pornografie

Solidariteit Helpende Hand het ‘n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om in hulle duisende te reageer op MultiChoice se voorgenome implementering van ‘n pornografie-kanaal en nuwe sekskanale op DSTV se satelliet televisiediens.

pron-banner

Helpende Hand ervaar eerstehands hoe die vlak van moraliteit in Suid-Afrika vinnig afneem en dikwels is dit kinders wat daaronder ly. Kinders word meer en meer blootgestel aan seksuele vergrype, misdade en prostitusie. ‘n Kindermisdaadverslag wat verlede jaar deur Helpende Hand vrygestel is het bevind dat daar ‘n sterk verband is tussen pornografie en kindermolestering. Alle pornografie kykers is nie noodwendig molesteerders nie, maar volgens kenners kyk alle kindermolesteerders na pornografie.

Navorsing bewys dat slagoffers van seksuele mishandeling in 90% van gevalle van misbruik die oortreders ken. Perversiteit word aangewakker deur pornografie en sal dus veroorsaak dat kindermishandeling dramaties toeneem.

Daar word elke drie minute ‘n kind in Suid-Afrika verkrag. Elke dag word daar 60 kinderverkragtings en 13 gevalle van mishandeling aangemeld. Ongeveer 88% van verkragtings word nie aangemeld nie.

Sê nou nee vir pornografie en beskerm weerlose kinders teen verdere uitbuiting.

Luister na ‘n klankgreep wat op Mense op Maandag op Solidariteit Radio uitgesaai is.

Bekende Suid-Afrikaners sê nee vir pornografie:

  • Bobby van Jaarsveld – “As hulle dink daar is baie skade aan Suid-Afrika se mense, gesinne en veral jong mense het hulle nog niks gesien tot hulle daai snert begin toelaat nie. Dis siek!”
  • Izak Davel – “Pleks spandeer hulle daai geld eerder om arm mense en weeskinders te help en geweld teen te werk en beter te maak. Pornografie is ‘n ‘insult’ op die mensdom. Dit stel ‘n slegte voorbeeld en niemand gaan daaruit baat nie.”
  • Vicotor Matfield – “Ek as ouer van 2 kinders wil nie my kinders blootstel aan pornografie nie.”
  • Hettie Brittz – “Die sogenaamde verwysing na “volwasse inhoud” is eintlik onvolwasse. Pornografie het ‘n vernietigende effek. Asseblief nie MultiChoice!”
  • Mel Botes – “As jou land se waardesisteem val, is jy besig om agteruit te gaan. Dit is teen my beginsels. In ‘n land waar jy blootgestel word aan so iets, word jou jeug verkeerd geleer.”
  • Gretha Wiid – “Ons jeug en ons huwelike bloei! Ons kinders word nie beskerm nie. MultiChoice is besig om ons jeug te kruisig, hulle verkoop ons kinders se siele vir geld terwyl hulle hul hande in onskuld was!”
  • Jakkie Louw – “As ons nie bereid is om ons kinders op te pas nie, wie gaan? Kinders is die toekoms en watter toekoms berei ons voor as ons hulle gif op die TV voer.”
  • Mandi du Plooy – “Dit is geweldig skokkend en hartseer en ek sal alles in my vermoë doen om mense te waarsku.”
  • Org Strauss – “Dit kan nooit ooreenstem met my waardes as Christen en Afrikaner nie. Die blootstelling aan pornografie is besig om ons jeug se opvoeding te vernietig.”
  • Adriana Tollig – “Pornografie, saam met Godslastering, en ‘n rits ander sondes word daagliks in hoër dosisse by ons vermaak gemeng en ons word al hoe lakser en gemakliker daarmee.”

Geagte hoof uitvoerende beampte

Dit is met absolute misnoeë en teleurstelling wat ek kennis neem van julle voorgenome implementering van pornografiese kanale as uitbreiding van die produkte wat julle aanbied. Vir my as intekenaar is dit ‘n absolute laagtepunt wat MultiChoice as maatskappye bereik in terme van impak wat hierdie uitbreiding op die Suid Afrikaanse samelewing gaan hê. Die samelewing gaan reeds gebuk onder ernstige misdaad en ander maatskaplike probleme . Die verhoogde blootstelling aan pornografie sal aanleiding gee tot verhoogde kindermishandeling en verdere uitbuiting van weerlose kinders.

Maatskappye is deesdae baie sterk verbind tot hul maatskaplike verantwoordelikheid in die gemeenskap. Ek is van mening dat hierdie pornografiese kanale die gemeenskap so gaan afbreek deur die massifisering van pornografie dat alle goeie werk van die verlede deur gulsige bemarking ongedaan gemaak gaan word. As MultiChoice voortgaan met die implementering sal ek onmiddellik my subskripsie heroorweeg en almal wat ek tee kom vra om dieselfde te doen.

Ek pleit dat MultiChoice hierdie saak weer bedink en eerder dink watter positiewe bydrae hulle kan maak om kindermishandeling, molestering en algemene skending van kinderregte te keer eerder as om ‘n projek van stapel te stuur wat sal lei tot hierdie negatiewe blootstelling .

Beswaarde landsburger in belang van ons kinders

 

cforms contact form by delicious:days