Mediaverklaring: Voornemende Aurora-entrepreneurs ontvang sertifikate na entrepreneursopleiding

Mediaverklaring

Solidariteit Helpende Hand

20 Februarie 2012

Voornemende Aurora-entrepreneurs ontvang sertifikate na entrepreneursopleiding

Voormalige werknemers van Aurora Empowerment Systems en ander individue wat in die Springs-omgewing woon, het vandag sertifikate ontvang nadat hulle ʼn kursus in entrepreneurskap suksesvol voltooi het.

Die kursus, wat verlede jaar in Oktober afgeskop het, was ʼn verdere stap in Solidariteit Helpende Hand se veldtog om hierdie gemeenskap by te staan om hulle toekoms in hulle eie hande te neem. Die projek is deur Helpende Hand se werksoekportaal WerkNet gedryf. Tydens die kursus is agt voornemende entrepreneurs gehelp om ʼn volledige besigheidsplan op te stel en hulle doelwitte te bepaal.

Die entrepreneursopleiding het reeds belowende resultate opgelewer. “Dit het my hele lewe verander,” sê Thuli Shelembe wat ʼn natuurlike- en kruiemedisyne-besigheid bedryf. “Voorheen het ek nie geweet ek moet my besigheid registreer, besigheidskaartjies kry en ʼn logo hê nie. Nou weet ek ook daar is sekere dinge wat my werk makliker kan maak.”

Vir Margaret Rayner, wat tema-koeke vir kinderpartytjies maak, gaan dit nie soseer oor die sertifikaat nie, maar eerder dat sy nie meer die mens is wat sy ses maande gelede was nie. “Ek het verskriklik baie geleer uit die kursus, maar die selfvertroue en die selftrots wat ek nou het, saam met die feit dat ek die Here weer hierdeur kon vind, is die belangrikste.”

Gideon du Plessis, die adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, was sedert die begin van die Pamodzi/Aurora-krisis betrokke by die myngemeenskap. Hy het die entrepreneurs gelukgewens met hulle nuwe vaardighede maar ook gewaarsku dat hulle nie soos Michael Hulley en Khulubuse Zuma moet word, wat hulleself verryk ten koste van ander mense nie. Hulley en Zuma is van die mense wat verantwoordelik is vir die Aurora-krisis en vir wie Solidariteit nou met regsake dwing om op te dok.

Helpende Hand het aan die begin betrokke geraak deur onmiddellike noodleniging te verskaf. Dit het gou duidelik geraak dat die krisis nie ʼn korttermynprobleem is nie. Die entrepreneurskursus sluit aan by Helpende Hand se beleid van opheffing deur opleiding.

“Deur hierdie fokusarea kan ons ʼn tasbare verskil in mense se lewens maak,” sê dr Danie Brink, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. “Dit is nou julle taak om goeie uitsette van ons insette te maak. Ons staan langs die baan en moedig julle aan.”

Mediaskakelbeampte:

Juanita du Preez

Solidariteit Helpende Hand

Tel: 012 644 4390

Sel: 074 500 3915

E-pos: juanita@helpendehand.co.za