Mediaverklaring: Solidariteit Helpende Hand gee skooltassies vir Lichtenburg en Sannieshof se behoeftige graadeens
Solidariteit Helpende Hand
20 Januarie 2012
Solidariteit Helpende Hand gee skooltassies vir Lichtenburg en Sannieshof se behoeftige graadeens
Dertien nuwe graadeens van Lichtenburg en Sannieshof is vandeesweek verras met ʼn splinternuwe skooltassie propvol skryfbehoeftes en ander skoolbenodighede.
Solidariteit Helpende Hand deel vanjaar weer landwyd meer as 4 000 tassies uit aan behoeftige graadeens. Sedert die Skooltassieprojek in 2007 begin is, is meer as 12 500 skooltassies aan behoeftige Afrikaanssprekende graadeens versprei.
Uit Noordwes is aansoeke ontvang vir 260 tasssies waarvan tien onderskeidelik vir Laerskool Burgersdorp en Laerskool Lichtenburg en drie tassies vir Laerskool Sannieshof geallokeer is.
Een van die mammas van hierdie kinders was baie verlig oor die skenking.
“Ons is so verskriklik dankbaar oor hierdie tassies,” sê sy. “Helpende Hand is ook op ander maniere betrokke by ons, maar die tassies is so goed vir die kinders”.
Ook die skoolhoof van Laerskool Sannieshof, mnr. Louis Smit, sê hulle is baie dankbaar vir die skenking.
“Daar is maar altyd kinders in ons gemeenskap wat swaarkry. Die tassies vorm ook deel van ons skool se Omgee-projek. Nou kan ons afgesien van kos ook vir hierdie kinders ʼn tassie gee,” sê hy.
Die doel van projek is om uiteindelik toe te sien dat nie ʼn enkele Afrikaanse graadeen-leerling skool toe gaan sonder die nodige skryfbehoeftes nie, want die regte gereedskap kan kinders help om ʼn goeie opvoeding te kry en uit armoede te ontsnap. Helpende Hand wil die kringloop van armoede breek met ʼn beleid van opheffing deur opleiding wat reeds op die eerste skooldag met ʼn skooltassie begin en uitgebrei word met skoolleiding, beroepsleiding en uiteindelik selfs ʼn beurs. Helpende Hand streef daarna om mense die geleentheid te gee om hulle roeping uit te leef en daarmee ʼn positiewe bydrae tot die gemeenskap te lewer.
- Daar is verskeie maniere om te help SMS die woord “tassie” na 34388 (ʼn SMS kos R2) en ʼn agent sal jou skakel om vas te stel hoeveel jy wil bydra. Die koste van een tassie is R200.
- Skakel Helpende Hand by 0861 25 24 23 of 012 644 4390.
- Besoek die webwerf www.helpendehand.co.za.
- Maak ʼn skenking. Die bankbesonderhede is: Solidariteit Helpende Hand, Absa-rekening: 407 225 0017, Centurion-tak: 632 005. Gebruik “tassie” as verwysing. Faks bewys van betaling na 086 218 3216.
Mediaskakelbeampte:
Juanita du Preez
Solidariteit Helpende Hand
Tel: 012 644 4390
Sel: 074 500 3915
E-pos: juanita@helpendehand.co.za
www.helpendehand.co.za










