Mediaverklaring: Solidariteit Helpende Hand gee skooltassies vir behoeftige graadeens in Sasolburg
Solidariteit Helpende Hand
20 Januarie 2012
Solidariteit Helpende Hand gee skooltassies vir behoeftige graadeens in Sasolburg
Elf nuwe graadeens van Laerskool Leeuwspruit in Sasolburg is vandeesweek verras met ʼn splinternuwe skooltassie propvol skryfbehoeftes en ander skoolbenodigdhede.
Solidariteit Helpende Hand deel vanjaar weer landwyd byna 4 000 tassies uit aan behoeftige graadeens. Sedert die Skooltassieprojek in 2007 begin is, is 12 500 skooltassies aan behoeftige Afrikaanssprekende graadeens versprei.
Aansoeke vir 260 tassies is vanuit Noordwes ontvang, waarvan 70 vir die Sasolburg-omgewing geallokeer is.
Die tassies is deur die adjunk-hoof, Johan Loubser, by die skool in ontvangs geneem.
“Dis ʼn wonderlike middel wat Helpende Hand gegee het vir hierdie kinders om te kan leer,” sê Loubser. “Ons hou van die idee om nie net geld te gee nie, maar om kinders die manier te leer om self geld te maak.”
Die doel van projek is om uiteindelik toe te sien dat nie ʼn enkele Afrikaanse graadeen-leerling skool toe gaan sonder die nodige skryfbehoeftes nie, want die regte gereedskap kan kinders help om ʼn goeie opvoeding te kry en uit armoede te ontsnap. Helpende Hand wil die kringloop van armoede breek met ʼn beleid van opheffing deur opleiding wat reeds op die eerste skooldag met ʼn skooltassie begin en uitgebrei word met skoolleiding, beroepsleiding en uiteindelik selfs ʼn beurslening. Helpende Hand streef daarna om mense die geleentheid te gee om hulle roeping uit te leef en daarmee ʼn positiewe bydrae tot die gemeenskap te lewer.
Daar is verskeie maniere om te help.
- SMS die woord “tassie” na 34388 (ʼn SMS kos R2) en ʼn agent sal jou skakel om vas te stel hoeveel jy wil bydra. Die koste van een tassie is R200.
- Skakel Helpende Hand by 0861 25 24 23 of 012 644 4390.
- Besoek die webwerf, www.helpendehand.co.za, om meer inligting te bekom.
- Maak ʼn skenking. Die bankbesonderhede is: Solidariteit Helpende Hand, Absa-rekening: 407 225 0017, Centurion-tak: 632 005. Gebruik “tassie” as verwysing. Faks bewys van betaling na 086 218 3216.
Mediaskakelbeampte:
Juanita du Preez
Solidariteit Helpende Hand
Tel: 012 644 4390
Sel: 074 500 3915
E-pos: juanita@helpendehand.co.za
www.helpendehand.co.za










