Mediaverklaring: Solidariteit Helpende Hand Bothaville kondig eerste kandidate vir gemeenskapsbeurs aan

Mediaverklaring

Solidariteit Helpende Hand

16 Februarie 2012

Solidariteit Helpende Hand Bothaville kondig eerste kandidate vir gemeenskapsbeurs aan

Solidariteit Helpende Hand Bothaville het tydens ʼn onlangse dinee, wat deur die tak aangebied is, die eerste ontvangers van die Bothaville-tak se beursfonds aangekondig.

Twee voornemende studente van die streek sal danksy hierdie beurs hul studies vanjaar kan voortsit. Die studente sal onderskeidelik aptekerswese en onderwys studeer.

Vanjaar fokus Helpende Hand veral op die uitbou van die beursplatform om nog meer voornemende studente die geleentheid te bied om hulle te bekwaam om ʼn bydrae tot die ekonomie en hul eie familie te kan lewer. In 2011 is 11 volwaardige gemeenskapsbeurse, wat uitsluitlik behoeftige studente in die streek of tak bedien, gestig.

“By Solidariteit Helpende Hand word ʼn beleid van bemagtiging en opheffing deur opleiding gevolg, want die organisasie glo dat dit die beste manier is om armoede uit te roei. Die omvattende dienswaardeketting bied ʼn deurlopende begeleidingsproses wat geestelike, kulturele en maatskaplike armoede aanspreek en ʼn kleuter, kind, student en jongmens uiteindelik help om voor te berei vir die wêreld van werk,” sê Dr Danie Brink, die nuwe uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand.

Die gemeenskap was baie ingenome dat Dr Brink die Bothaville-dinee gekies het as die eerste geleentheid om in sy hoedanigheid as nuwe hoof van Helpende Hand as gasspreker op te tree. Die geleentheid is goed bygewoon.

Dinah Theron, die hoof van Helpende Hand se Afrikaanse Beursinstituut, het die gaste ook toegespreek oor die uitbou van die beursfondsnetwerk, aangesien die Bothaville-tak vanjaar weer sterk daarop sal fokus.

Die tak wil graag al die borge en gaste wat aan die geleentheid meegedoen het, bedank.

Om ook by te dra tot ʼn jongmens se toekoms, skakel die takvoorsitter, Felie Nel, by 083 255 6608.

Onderskrif: Voor, van links na regs, is Marna Minnaar (taksekretaris), Felie Nel (takvoorsitter) en Dinah Theron (hoof: Afrikaanse Beursinstituut). Agter, van links na regs, is Frikkie Minnaar (taktesourier), Arnold Steyn, Wynand Wessels (takondervoorsitter) en Dr Danie Brink (uitvoerende hoof: Solidariteit Helpende Hand).

Mediaskakelbeampte:

Juanita du Preez

Solidariteit Helpende Hand

Tel: 012 644 4390

Sel: 074 500 3915

E-pos: juanita@helpendehand.co.za