Mediaverklaring: NG Kerk Hartenbos skenk R50 000 aan Helpende Hand Suid-Kaap vir streeksbeurs

Mediaverklaring

Solidariteit Helpende Hand

7 Februarie 2012

NG Kerk Hartenbos skenk R50 000 aan Helpende Hand Suid-Kaap vir streeksbeurs

Solidariteit Helpende Hand in die Suid-Kaap het onlangs ʼn skenking van R50 000 van die NG Kerk Hartenbos ontvang. Die fondse sal, op versoek van die kerk, vir ʼn streeksbeurs aangewend word.

Helpende Hand is ʼn doen-organisasie wat jongmense voorberei vir die werkende wêreld, ʼn spesifieke fokus op ʼn groot Afrikaanse beursplatform het en idees oor die bekamping van maatskaplike, geestelike en kulturele armoede ontwikkel. Dit word alles breedvoerig beskryf deur die konsep van opheffing-deur-opleiding.

“Die stryd teen armoede is ʼn stryd vir goeie opleiding en die voorstel vir ʼn streeksbeurs om ʼn student uit die Suid-Kaap die geleentheid te gee om te studeer, val loodreg in by Helpende Hand se beleid,” sê Mariaan Mans, die Suid-Kaap se streeksorganiseerder. “Die Suid-Kaap-streek is baie dankbaar vir hierdie belegging in ʼn jongmens se toekoms.”

Die geld is ingesamel deur ʼn kollekte wat die NG Kerk Hartenbos op Kersdag tydens dienste by die Hartenbos Amfiteater en die kerk opgeneem het. Die skenkers is vooraf ingelig dat die fondse aan Helpende Hand en nog ʼn organisasie geskenk sal word.

ʼn Rekord bedrag van R117 000 is ingesamel, waarvan R50 000 aan Helpende Hand geskenk is.

Foto’s beskikbaar op aanvraag.

Mediaskakelbeampte:

Juanita du Preez

Solidariteit Helpende Hand

Tel: 012 644 4390

Sel: 074 500 3915

E-pos: juanita@helpendehand.co.za