Ledevoordele

11 Goeie REDES om ‘n Solidariteit Helpende Hand-lid te word:

REDE 1: JY GEE OM VIR ONS MENSE

  • Jy behoort aan ‘n organisasie wat reeds vir sestigjaar betrokke is by mense in nood.
  • Helpende Hand help in gemeenskappe waar die regering hoofsaaklik nie help nie.
  • Die hulp strek egter ook wyer, want programme en modelle is ook beskikbaar wat deur ander gemeenskappe gebruik kan word.

REDE 2: JY BEHOORT AAN ‘N SPAN WAT NIE BANG IS OM KWESSIES AAN TE SPREEK NIE

Hoop word geskep wanneer iemand bereid is om te praat vir dié wat nie kan praat nie en op te staan vir dié wat nie kan opstaan nie. Helpende Hand skroom nie om dit te doen nie.

  • Helpende Hand het die stilte rondom wit armoede verbreek.
  • Helpende hand het met die “breek-die-greep” projek dwelmmisdaad aangespreek.
  • Helpende Hand spreek ook kwessies aan soos kindermishandeling en misdaad.

Helpende Hand poog altyd om ‘n positiewe antwoord op negatiewe omstandighede  te gee.

REDE 3: JY WORD DEEL VAN ‘N GROTER SOLIDARITEIT FAMILIE

  • Helpende Hand funksioneer as ‘n Artikel 21 maatskappy binne die raamwerk van ‘n sterk gevestigde Solidariteit beweging wat meer as ‘n 100 jaar oud is.
  • Deur Helpende Hand te ondersteun word jy deel van die beweging wat jou belange op die hart dra.

REDE 4: JY BELê IN DIE TOEKOMS VAN ‘N KIND

  • Duisende Afrikaanse gesinne is afhanklik van voedingskemas vir hulle daaglikse kosbehoeftes.  In hierdie omstandighede het Helpende Hand ‘n unieke taak om te vervul. Nie net om hoop aan diegene in nood te bring nie, maar ook om toe te tree aan die oplossingskant sodat die volgende geslag Afrikaanse kinders ‘n toekoms in die land het.
  • Helpende Hand se benadering tot armoede verligting is dat ons, ons jongmense wil voorberei vir die werkplek deur regte beroepskeuses en goeie opleiding.
  • Helpende Hand is besig met die ontwikkeling van programme sodat ons jongmense die goeie beroepsleiding kry om die regte beroepskeuses te maak
  • Helpende Hand het ‘n groot Afrikaanse beursplatform geskep waar ons ‘n verskeidenheid van beursfondse administreer. Sodoende kan ‘n maksimum aantal jongmense toegang kry tot finansiële hulp vir verdere opleiding – veral in skaars en kritiese vaardighede.

REDE 5: JY WORD DEEL VAN DIE OPLOSSING

  • Elkeen kan ‘n bydrae lewer tot die bekamping van armoede.  Aangesien mens nie in staat is om almal te help wat op straat staan met ‘n bordjie om die nek nie, is  betrokkenheid by Helpende Hand  ‘n geleentheid om deel te word van ‘n omvangryke oplossing.
  • Helpende Hand is betrokke by die opheffing van verskeie informele nedersettings, skuilings, ouetehuise, kinderhuise en kleuterskole deur kriteria te ontwikkel en standaarde te skep wat die lewensomstandighede verbeter
  • Helpende Hand lewer ‘n multidissiplinêre fasiliteringsdiens naamlik Opleiding, Maatskaplik, Godsdiens, en Bewusmaking .

REDE 6: JY WORD DEEL VAN ‘N  GEMEENSKAP WAT OMGEE

  • Helpende Hand is besig om landswyd behoeftegedrewe dienstakke te stig wat gemeenskappe vir ontwikkelingshulp kan mobiliseer. Helpende Hand dienstakke is reeds aktief besig om die nood in hulle omgewing aan te spreek. ‘n Helpende Hand dienstak pak maatskaplike projekte in die gemeenskap aan, soek na werkskeppingsgeleenthede en doen fondsinsameling om gemeenskapsprojekte te finansier.
  • Helpende Hand beskou Suid-Afrikaners in die buiteland as deel van ons gemeenskap wat omgee. Suid-Afrikaners in die buiteland is ons internasionale ambassadeurs. Daar bestaan reeds ‘n suksesvolle kommunikasie netwerk in 11 lande waarmee Helpende Hand Suid Afrikaners in die  buiteland bewus  maak van die groeiende Afrikaanse armoede.
  • Helpende Hand lede behoort aan ‘n organisasie wat op alle vlakke met die regering en ander welsynsorganisasies konstruktief saamwerk.

REDE 7: JY WORD DEEL VAN MEETBARE PROJEKTE WAT ‘N VERSKIL MAAK

  • By Helpende Hand word jy deel van projekte wat probleme met oplossings aanspreek.
  • As jy by Helpende Hand aansluit sluit jy by ‘n span aan wat bereid is om hande vuil te maak om ander te bemoedig en te bemagtig.
  • Die Kosblikkieprojek is ‘n opheffingsprojek wat fokus op die verspreiding voedingskoepons aan behoeftige kleuterskole en toerusting van Kleuterskool Onderwysers, dagmoeders en mammas met  opleidingsprogramme
  • Die Tassieprojek is ‘n opleidingsprojek wat ‘n skooltassie en skryfbehoeftes aan behoeftige Graad 1 leerders ‘n op hulle eerste skooldag voorsien.
  • Die Koekieprojek is ‘n werkskeppingsprojek vir arm gemeenskappe.
  • Die Skenkingskantoor versprei daagliks kos, klere en lewensmiddele waar daar behoefte is.

REDE 8: JY WEET JOU GELD WORD NIE GEMORS NIE

  • Helpende Hand lede het die versekering dat hul fondse bydra om mense se lewensstandaard te verbeter, hul fondse word nie verdeel in klein en nuttelose deeltjies nie.
  • Helpende Hand kry geen geld van die staat, Lotto, of van enige ander oganisasie nie.
  • Helpende Hand is totaal  afhanklik van debietorders en skenkings van die gemeenskap.
  • Helpende Hand kan ’n gefokusde diens lewer sonder om kompromieë aan te gaan omdat hy sy eie fondse genereer.
  • Helpende Hand bestuur sy fondse verantwoordelik, deursigtig en op gesonde besigheidsbeginsels.
  • Helpende Hand lede word deel van ‘n organisasie wat ‘n baie hoë administratiewe en finansiele standaard handhaaf
  • Die organisasie se finansies word gereeld deur eksterne ouditeurs nagegaan en ‘n Regsadviseur bedien Helpende Hand op gereelde basis van advies sodat ons optrede verantwoordbaar teenoor ons lede kan wees.
  • Helpende Hand respekteer sy skenkers se wense.

REDE 9: JY WORD DEEL VAN ‘N GROTER STORIE VAN HOOP

  • Daar is baie dinge in ons land wat nie meer reg gepraat kan word nie, maar wat reg gedoen moet word. As jy by Helpende Hand aansluit word jy deel van ‘n oplossing en skryf jy saam aan ‘n groter storie van HOOP.
  • Helpende hand oorhandig jaarliks aan persone wat buitegewone gemeenskapsdiens gelewer het ‘n HELDE VAN HOOP toekenning.
  • By Helpende Hand glo ons egter dat elkeen wat betrokke is – finansieel of fisies reeds ‘n held van hoop is.

REDE 10: AS ‘n HELPENDE HAND LID KRY JY DIE VOLGENDE VOORDELE

  • Toegang tot die Helpende Hand Noodfonds onderhewig aan sekere kriteria.
  • Toegang tot beurse van ons Afrikaanse Beursfonds en Beroepsleiding Instituut.  Die verskillende beurse het elkeen sy eie kriteria waaraan voldoen moet word, maar as Helpende Hand lid het jy die voordeel om aansoek te mag doen om in aanmerking te kom vir die beurse wat deur Helpende Hand geadministreer word.
  • Die voorreg om jou Hande te kom vuil maak wanneer ons georganiseerde hande-vuil-maak uitstappies/byeenkomste reël.
  • Jy word outomaties deel van ons gespreksforum op ons blog www.storiesvanhoop.iblog.co.za en kan saam gesels tydens ons Internet radio program op Maandae tussen 13:00 en 14:00.
  • Jy ontvang ons maandelikse nuusbrief waarin dienstaknuus vermeld word.
  • Helpende Hand se navorsing word aan ons lede bekend gestel.
  • Jy ontvang vir jou bydrae ‘n 18A Belastingvrystellingsvorm onderhewig aan sekere kriteria.

REDE 11: Dit is LEKKER!

Om betrokke te raak en waarde toe te voeg aan iemand in nood se lewe, om vir ‘n kind hoop te skep, om ‘n jongmens te help om te studeer, om vir ‘n werklose werk te skep is nie ‘n pligpleging nie…dit is LEKKER! Dit is lekker as ‘n graad eentjie “uitasem word van bly wees” wanneer sy ‘n skooltassie oopmaa, dit is lekker as kleuterjies opgewonde is om ‘n kosblikkie-verrasing ontvang, te is lekker as ‘n jongmens graad kry. Om deel te wees van helpende Hand is rugbreek werk, daar is niks romanties aan armoede nie, maar dit is lekker om deel te wees van hoop.