Kosblikkie

Soveel behoeftige kleuters sal weens fisieke, emosionele en geestelike verwaarlosing nie optimaal ontwikkel nie en gevolglik hulle formele onderrig reeds met ʼn agterstand begin. ‘n Agterstand wat egter grootliks oorkom kan word.

Baie ouers in behoeftige areas móét werk.  Hulle kan egter nie die kleuterskoolfooie bekostig nie en die kleuters word dan in die sorg van een van die gemeenskap se werklose ma’s gelos.  Dis juis om hierdie rede dat een van die grootste doelwitte van die Kosblikkieprojek, die opleiding van dagmoeders in hierdie gemeenskappe is.

Helpende Hand se navorsing het getoon dat kleuters in behoeftige areas baie keer gespesialiseerde hulp en remediërende dienste benodig soos arbeidsterapie, spraakterapie en sielkundige hulp – ‘n luuksheid wat hierdie ouers nie kan bekostig nie.   Daar is dus `n reuse behoefte aan maatskaplike dienste om hierdie kinders betyds te evalueer en die behoorlike opleiding van versorgers kan baie van die ontwikkelingsprobleme van kleuters ook voorkomend aanspreek.

Die kleuters, wat wel by kleuterskole uitkom, se tragiese realiteit is dat die maaltyd wat hulle daar ontvang baie keer hulle enigste maaltyd vir die dag is.

Helpende Hand het dus sekere leemtes in die holistiese ontwikkeling van behoeftige kleuters geïdentifiseer wat ons graag deur die Nasionale Kosblikkieprojek wil aanspreek:

1.  Opleiding van versorgers

Die eerste 20 vrouens is in 2010 in Pretoria in samewerking met die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) opgelei.  Die SBA se kursus is ontwikkel uit die behoeftes van arm Afrikaanssprekende vroue in die Wes-Kaap. Die program fokus op hulle persoonlike ontwikkeling en op so manier dat dit nie intimideer nie, maar bemagtig en haar selfvertroue as ouer versterk.

Die waarde van  die kursus is weerspieël in die trots waarmee die ma’s hulle sertifikate ontvang het tydens ons eerste Sertifikaatplegtigheid in November 2010.

Die opleiding dien ook as ‘n werkskeppingsprojek aangesien die vrouens na afloop van die 30 weke opleiding nou hulle eie dagsorgsentrum kan registreer. 

Ester Steyn (H.O.D. met spesialisering in Primêre Onderwys en ook die skrywer van Kinderkrag) is geïdentifiseer om die SBA kursus in 2011 vir ‘n groep van 30 vrouens in Pretoria aan te bied. Die opleiding is in 2011 in twee streke aangebied.

2.  Voedingskemas

In 2011 het Helpende Hand voedingskemas in minstens 15 behoeftige Afrikaanse kleuterskole landswyd begin.   Die skole word geïdentifiseer vanuit ons nasionale navorsing en dan aan `n Helpende Hand vrywilligertak gekoppel wat verantwoordelikheid aanvaar vir die bestuur van die fondse en voedselkoepon vir die kleuterskool.

Die projek word in samewerking met VOSS (Vereniging vir Voorskoolse Onderrig en Sorg) gedoen.

3.  Maatskaplike dienste

Helpende Hand het in 2011 ons eie maatskaplike werker aanstelgestel om onmiddellike hulp te bekom vir kinders in nood.  Tans kry die kleuters se behoeftes nie aandag nie weens die bekostigbaarheid en die toeganklikheid van hierdie spesialis dienste.

6.  Gemeenskapsbetrokkenheid:

Die projek bied ‘n kreatiewe platvorm vir vrywilligers om op eie inisiatief `n kleuterskool aan te neem en oplossings te bied vir daardie skool se spesifieke behoeftes hetsy die verbetering van infrastruktuur of opvoedkundige materiaal.

Behoeftige/bevoorregte gemeenskappe reg oor Suid-Afrika kan ingespan word om opvoedkundige materiaal vir kleuterskole met die hand te maak.  Opvoedkundige materiaal soos klei, houtblokkies, legkaarte, vorm- en kleurherkenningsborde, tolletjies wat geryg word op veters, balle en boeke kan in ʼn krat verpak word en uitgedeel word aan die skole wat kwalifiseer vir die projek.

Inkleurboeke, leesboeke en opvoedkundige CD’s kan ingesamel en geskenk word.

Helpende Hand het ook 500 inkleurboeke met ‘n opvoedkundige leesstorie, aangekoop wat in 2010 as deel van die projek versprei is.

Vrywilligers kan ‘n biblioteek met opvoedkundige speelgoed of leesboekies begin, ‘n vaal muur/klimraam of `n fietsbaan verf en ou swart skopfietsies insamel.