Ontbytsake-span hou kosblikkiepartytjie vir behoeftige kleuters

6 September 2010

Helpende Handnooi die media uit na ‘n kosblikkiepartytjie saam met die Ontbytsake-span van KykNET by die Villa Gloria-plakkerskamp in Krugersdorp.

Die twintig behoeftige kleuters van die plakkerskamp gaan bederf word met voedsame ontbytkosblikkies, opvoedkundige inkleurboekies en voedingsdrankies.

Leerlinge van Laerskool Hennopspark in Centurion was verantwoordelik vir die pak van die ontbytkosblikkies.

Die partytjie vorm deel van Helpende Hand se bestaande nasionale Kosblikkieprojek.

Die Ontbytsake-span en Storm Rekordz het onlangs ‘n nuwe CD, Ontbytsake en vriende, met die temalied Plekkie in die son bekendgestel.

‘n Gedeelte van die opbrengs van die CD word aan Helpende Hand geskenk om projekte soos die nasionale Kosblikkieprojek te befonds.

Danksy die bydraes wat Helpende Hand-ondersteuners tot die Kosblikkieprojek in 2009 gemaak het, word 30 ma’s van Danville tans as dagmoeders opgelei, waarna hulle in staat sal wees om hul eie dagsorgsentrums te begin.

Altesaam 2 000 blikke Nativa-voedingsdrankies ter waarde van R160 000, sowel as voedselkoepons is die afgelope twee maande as deel van die projek by minderbevoorregte kleuterskole regoor Suid-Afrika uitgedeel.

“Dit is wonderlik as ‘n groep mense soos die Ontbytsake-span omgee vir kleuters in nood en glo aan ‘n groter strategie van opheffing-deur-opleiding om dié nood aan te pak,” sê dr. Danie Langner, uitvoerende direkteur van Helpende Hand.

Die media word uitgenooi om die geleentheid by te woon:

Datum: Maandag, 6 September

Tyd: 10:00

Plek: Villa Glorio plakkerskamp, Engelbrechtstraat 25, Krugersdorp (Aanwysings is aangeheg)

RSVP: Surika by 083 411 0927