Behoeftige kleuters blom op lentedag Nedine Blom vat hande met Helpende Hand

1 September

Helpende Hand het gister ter viering van lentedag die kleuters van Beit-Lechm Kleuterskool in Krugersdorp bederf met ‘n lenteblommekosblikkiepartytjie saam met gewilde sangeres Nedine Blom. Die 52 behoeftige kleuters is bederf met partytjiekosblikkies, voedingsdrankies en opvoedkundige inkleurboekies wat holistiese ontwikkeling stimuleer.

Blom is tans besig om die lekkerleesboekie Die avonture van Pieter Paddavis en Lientjie Lier te toonset.

Die kosblikkiepartytjie was ‘n inisiatief van Helpende Hand se nuutgestigte vroue-organisasie Vroue in Aksie. Die partytjie vorm deel van Helpende Hand se bestaande nasionale Kosblikkieprojek wat in Junie vanjaar afgeskop het.

In die loop van die projek vat Helpende Hand-takke hande met minderbevoorregte kleuters regoor Suid-Afrika. Bo en behalwe die uitdeel van kosblikkies en voedselkoepons by die skole, kan takke op eie inisiatief programme aanbied wat fokus op die intellektuele en motoriese ontwikkeling van die kind.

Navorsing wat Helpende Hand pas bekendgestel het, toon dat minderbevoorregte kleuterskole ‘n ernstige tekort het aan opvoedkundige materiaal vir spraak- en motoriese ontwikkeling, sowel as kreatiewe stimulasie.

Volgens dr. Danie Langner, uitvoerende direkteur van Helpende Hand ontwikkel 80% van ‘n kind se breinfunksie voor die ouderdom van ses. “Baie kleuters in minderbevoorregte gebiede is milieugestremd. Sonder die nodige intellektuele stimulasie is hierdie kleuters derhalwe ook nie skoolgereed op die ouderdom van ses nie,” sê Langner.

Volgens hom voorsien minderbevoorregte kleuterskole dikwels aan kleuters die enigste maaltye wat hulle elke dag kry. “Helpende Hand pak hierdie probleme in minderbevoorregte kleuterskole aan deur voedingskemas, die opleiding van onderwysers en die verspreiding van opvoedkundige materiaal in Afrikaans,” sê Langner.