Helpende Hand en Bybelgenootskap vier Afrikaanse Bybel se 77ste verjaarsdag
27 Augustus 2010
Bybels word uitgedeel in wit plakkerskamp in Bredell
Solidariteit Helpende Hand het op Donderdag, 26 Augustus, ter viering van die Afrikaanse Bybel se 77ste verjaarsdag, Afrikaanse Bybels by die Bredell-plakkerskamp aan die Oosrand uitgedeel.
Die uitdeelaksie, wat in samewerking met die Bybelgenootskap van Suid-Afrika en die Gideon Bybelgenootskap gehou is, het ten doel gehad om Afrikaanse Bybels aan minderbevoorregtes aan die Oosrand te verskaf.
Die verjaarsdagviering het plaasgevind te midde van die Afrikaanse Taalraad se Onderwyskonferensie wat pas in Kaapstad by die Kunstekaap-teater afgeskop het.
Volgens die Suid-Afrikaanse Bybelgenootskap, wat hierdie week190 jaar oud geword het, is Afrikaans die huistaal van byna ses miljoen Suid-Afrikaners. Navorsing wat Helpende Hand in wit plakkerskampe onderneem het, toon dat baie minderbevoorregte Afrikaners nie Bybels besit nie.
Dr. Danie Langner, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê dit is vir Helpende Hand ? voorreg om die Afrikaanse Bybels uit te deel aan minderbevoorregtes wat dit nie kan bekostig nie. “Ds. JD Kestell, die vader van die 1933 Afrikaanse Bybel, is reeds in sy eerste bedieningsjare diep geraak deur die verarming van die Afrikaner. Daarom het hy besluit om sy lewe daaraan te wy om die verarmde Afrikaner nie net maatskaplik nie, maar ook geestelik op te hef,” sê Langner.
Helpende Hand het met die herdenking van die 1939-Reddingsdaadbond by die Voortrekkermonument in Oktober 2009 die JD Kestell-gedenkfonds in die lewe geroep. Die doel van die JD Kestell-gedenkfonds is om erkenning te gee aan die reuse bydrae wat Kestell gelewer het tot die oplossing van die eerste twee Afrikanerarmoedevraagstukke en om die denkraamwerk van opheffing deur opleiding verder te ontwikkel. “Die doel van die Fonds is om die geestelike, kulturele en maatskaplike nood onder behoeftige Afrikaanse jongmense aan te pak,” sê Langner.
Die eerste Afrikaanse Bybel
Die eerste Afrikaanse Bybel het op 27 Augustus 1933 die lig gesien. Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika het ? nuwe vertaling van die Afrikaanse Bybel in 1983 uitgegee. Daarna het die Bybelgenootskap weer geskiedenis gemaak in 2008 toe die eerste Afrikaanse Bybel vir Dowes die lig gesien het. Die Bybel vir Dowes is die tweede Bybel in die wêreld wat spesiaal vir dowes gedruk is.









