Dankbaarheid oor Afrikaanse Bybels verstom Helpende Hand

27 Augustus 2010

Bybels uitgedeel in wit plakkerskamp in Bredell

Helpende Hand het gister ter viering van die Afrikaanse Bybel se 77ste verjaarsdag vandag Bybels gaan uitdeel aan die 106 inwoners van die Bredell-plakkerskamp aan die Oos-Rand.

Die uitdeelaksie, wat in samewerking met die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gehou is, het ten doel gehad om Afrikaanse Bybels aan minderbevoorregtes aan die Oos-Rand te verskaf. Talle helderkleurige Kinderbybels, standaard Bybels en grootdruk-Bybels is gister met groot dankbaarheid ontvang.

“Vir die mense van Bredell wat elke dag in haglike omstandighede moet bly en sonder die nodige lewensmiddele moet klaarkom, is ? Bybel in hulle eie taal soos ? geestelike oase,” sê dr. Danie Langner, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.

Volgens hom aanvaar die meeste mense toegang tot ? Afrikaanse Bybel as vanselfsprekend. “Navorsing wat Helpende Hand in wit plakkerskampe onderneem het, toon dat baie minderbevoorregte Afrikaners nie Bybels besit nie. Meeste van die 24 kinders in die Bredell-plakkerskamp het gister hulle eerste Kinderbybels ontvang,” sê Langner.

Hy sê dit is juis plakkerskampinwoners wat na hulle eie omstandighede moet kyk deur Jesus se oë en moet besef dat hulle beter is as hulle omstandighede. “Sonder Bybels sukkel die Krugers, Van der Walts en Venters van die meer as 430 wit plakkerskampe landswyd om te besef watter juwele van wysheid oor roeping, verantwoordelikheid en werk in die Bybel opgesluit is.

Langner sê Bybels is ? noodsaaklikheid in die oorlewingstryd van elkeen van die 600 000 Afrikaners in Suid-Afrika wat in armoede verval het en gevolglik hul toekomshoop verloor het. “Helpende Hand is uiters dankbaarheid vir organisasies soos die Bybelgenootskap van Suid-Afrika wat verstaan dat ons die Woord as daaglikse brood moet beskikbaar stel en regdeur Suid-Afrika moet versprei aan elkeen wat geestelik en maatskaplik verarm het.”

Ná die uitdeelaksie het tientalle kinders spoedig in groepies op die gras gaan sit en deur hulle nuwe kleurvolle Kinderbybels begin blaai. Verskeie bejaardes het hulle dankbaarheid uitgespreek vir die grootdruk-Bybels wat help dat hulle nie meer met skrefiesoë – soms by kerslig – die klein skrif van standaard Bybels hoef te probeer lees nie.

Kyk gerus die video “My eerste Bybel”.

http://zoopy.com/q/4y4g