Helpende Hand en Bybelgenootskap vier Afrikaanse Bybel se 77ste verjaarsdag
26 Augustus 2010
Solidariteit Helpende Hand nooi die media uit na die viering van die Afrikaanse Bybel se 77ste verjaarsdag by die Bredell-plakkerskamp aan die Oosrand op Donderdag, 26 Augustus. Die uitdeelaksie, wat in samewerking met die Bybelgenootskap van Suid-Afrika en die Gideon Bybelgenootskap gehou word, het ten doel om Afrikaanse Bybels aan minderbevoorregtes aan die Oosrand te verskaf.
Die verjaarsdagviering vind plaas te midde van die Afrikaanse Taalraad se Onderwyskonferensie wat gister in Kaapstad by die Kunstekaap-teater afgeskop het.
Volgens die Suid-Afrikaanse Bybelgenootskap, wat pas 190 jaar oud geword het, is Afrikaans die huistaal van byna ses miljoen Suid-Afrikaners. Navorsing wat Helpende Hand in wit plakkerskampe onderneem het, toon dat baie minderbevoorregte Afrikaners nie Bybels besit nie.
Dr. Danie Langner, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê dit is vir Helpende Hand ‘n voorreg om die Afrikaanse Bybels uit te deel aan minderbevoorregtes wat dit nie kan bekostig nie. “Ds JD Kestell, die vader van die 1933 Afrikaanse Bybel, is reeds in sy eerste bedieningsjare diep geraak deur die verarming van die Afrikaner. Daarom het by besluit om sy lewe daaraan te wy om die verarmde Afrikaner nie net maatskaplik nie, maar ook geestelik op te hef,” sê Langner.
Helpende Hand het met die herdenking van die 1939-Reddingsdaadbond in Oktober 2009 by die Voortrekkermonument die JD Kestell-gedenkfonds in die lewe geroep. Die doel van die JD Kestell-gedenkfonds is om erkenning te gee aan die reuse bydrae wat Kestell gelewer het tot die oplossings van die eerste twee Afrikanerarmoedevraagstukke en om die ideeraamwerk van opheffing deur opleiding verder te ontwikkel. “Die doel van die fonds is om arm Afrikaanse jongmense se geestelike, kulturele en maatskaplike nood aan te spreek,” sê Langner.
Die eerste Afrikaanse Bybel
Die eerste Afrikaanse Bybel het op 27 Augustus 1933 die lig gesien. Die Afrikaanse Bybel is weer in 1983 deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika vertaal. Daarna het die Bybelgenootskap weer geskiedenis gemaak in 2008 toe die eerste Afrikaanse Bybel vir Dowes die lig gesien het. Die Bybel vir Dowes is die tweede Bybel in die wêreld wat spesiaal vir dowes gedruk is.
Die media word uitgenooi om die geleentheid by te woon:
Datum: Donderdag, 26 Augustus
Tyd: 14:30
Plek: Plakkerskamp: Plot 411 op die hoek van 7de Straat en 1ste Laan, Bredell









