Helpende Hand Beroepsleidingsinstituut maak tree vir tree ‘n verskil

Die Solidariteit Helpende Hand Beroepsleidingsinstituut, wat onlangs op die been gebring is om jongmense te lei om ingeligte besluite rakende hul toekomstige beroepe te neem, maak reeds tree vir tree ‘n verskil in die lewens van leerders.

Die Instituut het onlangs ‘n graad 12-leerling bygestaan met die beroepsleidingproses. Kort na die besoek aan ‘n professor wat ‘n toets gedoen het om te bepaal watter studierigting vir dié leerder geskik is, is die volgende boodskap van ‘n verligte en tevrede ma ontvang:

“Ons het ons besoek by die professor baie geniet. Ek en Suzanne kan dit beslis aanbeveel vir alle jongmense, veral dié in graad 9, voordat hulle vakkeuses vir graad 10 maak. Sy toetse is deeglik en hy som die persoon presies op. Alle ouers wat gaan belê in hulle kinder se toekoms op universiteit behoort hulle hierdie toetse te laat aflê om seker te maak hulle kies die regte studierigting. Jy kan gerus my nommer vir enigeen gee wat verdere inligting benodig.”

Volgens Karin Venter, bestuurder van die Solidariteit Helpende Hand Beroepsleidingsinstituut, was dié leerling deel van die beroepsleidingsprogram wat die Instituut aanbied.

Programme wat leerlinge lei om die regte vakkeuses en uiteindelik beroepskeuses te maak, is onontbeerlik, sê Karin. “Suzanne kan nou met sekerheid in haar hart haar aandag ten volle by haar skoolwerk bepaal en rustiger wees omdat sy sekerheid oor haar toekoms het,” verduidelik Karin.
Na aanleiding van die hoeveelheid navrae oor die beroepsleidingdiens en die belangrikheid daarvan vir ‘n hoopvolle toekoms, bied die Beroepsleidinginstituut die professionele toetsingsdiens teen ‘n verdere verlaagde tarief.

“Ons wil soveel moontlik kinders bystaan om, soos Suzanne, sekerheid te kry oor hul studierigting,” verduidelik sy.

Professionele toetsing sluit die volgende in:

  • Aanleg, verstandelike vermoë, persoonlikheid en belangstellings;
  • die toetsing neem ongeveer 2½ tot 3 ure die uitslag word met die ouer(s) en kind bespreek. ‘n Volledige verslag word ook verskaf; en
  • alhoewel die program voorheen aangebied is teen R1 250 per persoon, betaal lede van Solidariteit nou slegs R1 050 en Helpende Hand-ondersteuners slegs R1 000 daarvoor.

Maak vandag nog ‘n afspraak by Karin Venter deur 012 644 4390 te skakel of kontak haar by karin@helpendehand.co.za.