Mandela se droom van gelykheid aan skerwe ’n Ma se brief van pyn
Geagte mnr. Nelson Mandela
Dit is 17 jaar vandat u die Nobelprys vir Vrede gewen het, 16 jaar vandat u president geword het en 15 jaar sedert u gesê het dat niemand in hierdie land ooit weer deur ? ander een onderdruk sal word nie.
Ek, my man en my kinders bly in Ruyterwacht se plakkerskamp. Ons het nie elektrisiteit nie. My man is gevra om te gaan by sy vorige werk en kry nou minder as R1 500 per maand. Ons het vir jare in ? karavaan gebly. Solidariteit Helpende Hand kon darem vir ons ‘n Wendy-huisie gee. My kinders leer by kerslig en ek het nie geld vir die skryfgoed wat hulle nodig het vir skool nie. Dwayne (hy is nou vyf jaar oud) wou een keer by my weet wat gaan van ons word hier. Ek het nie geweet wat om te sê nie en hom maar eerder vertel van waar ons vandaan kom – die geskiedenis van ons land. Ek het hom ook vertel van die 27 jaar wat u in ? tronk moes sit.
Meneer Mandela, ons het baie in gemeen. Ek wil ook hê my kinders en hulle kinders moet vry wees. Ek wil ook vir hulle ? beter lewe hê en ek wil ook nooit moed opgee nie. Al die dinge wat u vir u mense wou gehad het, dít wil ek ook vir my kinders hê. Maar, meneer Mandela, nou is my kinders wit en ons is arm. Die geweld en diskriminasie in ons land is besig om die nuwe Suid-Afrika waarvoor u so hard baklei het, te verwoes.
U het geveg teen wette wat net vir sekere rasse werk, maar in vandag se Suid-Afrika kyk die mense juis in my kind se kleur vas en maak sy kleur dat hy nie ? toekoms het nie. U het gesê dat opvoeding die beste wapen is om ? land te verander, maar wat as die opvoeding nie vir Dwayne gaan help om verder te gaan en werk te kry nie? Is dit die moeite werd om so te sukkel met die skoolgoed as mense eerder na sy vel as die stuk papier met sy matriek op gaan kyk?
U het gesê jy sal weet ? land is goed as jy sien hoe dit met sy kinders gaan, wat daai land vir sy kinders doen. Maar, meneer Mandela, hierdie land hanteer nie my kind goed nie.
U het gesê dat daar brood en werk vir almal sal wees, maar ek moet vandag vir kos en klere vra, want ek het nie. U sien, ék kry nie geld of hulp by die regering nie. Ek het net myself om myself te help.
Geagte meneer Mandela, u sal verstaan dat om arm te wees, net soos om vry te wees, geen kleur ken nie, maar hoekom lyk ek dan vandag anders in die oë van ons regering? Hoekom moet my klein Dwaynetjie, wat net vyf jaar oud is, “suffer” vir iets wat hy nie verdien nie?
Meneer Mandela, hoe moet ek vry voel as ek nie kos het om te eet nie, slegte skelms moet smeek om my nie dood te maak nie en vir my kinders moet verduidelik hoekom ons nie ? huis kan kry om in te bly nie? Hoekom is die misdaad van vandag in hierdie land nie so skokkend soos die dinge wat in Sharpeville gebeur het nie?
U het gesê ons het genoeg onregverdigheid gesien. Genoeg sleg en pyn en hartseer. Ek wil net vandag sê dat ek saamstem. Meneer Mandela, dis nou 16 jaar later en u is reg, dit ís nou genoeg.
Hester









