Meer as 13 000 stem nee vir sekskanale op DSTV

Mediaverklaring

Solidariteit Helpende Hand

3 Maart 2010

Meer as 13 000 stem nee vir sekskanale op DSTV

Helpende Hand-veldtog sê pornografie is in stryd met handves van menseregte

“Stem nee vir pornografie op DSTV by www.neevirpornografie.co.za.” Dit is die boodskap van Solidariteit Helpende Hand, wat vandeesweek’n veldtog afgeskop het om duisende Suid-Afrikaners te mobiliseer om op te staan teen DSTV MultiChoice se voorgenome implementering van pornografiese en sekskanale op dié televisiediens. Sedert die afskop van die veldtog het meer as 13 000 mense reeds op die webblad of per SMS nee gestem vir pornografie, tesame met talle bekendes soos Victor Matfield, Mel Botes en Hettie Britz. Diegene wat nie toegang het tot e-pos nie kan die woord “pornografie” na 35960 SMS. Die SMS’e sal ook as ‘n protesstem geag word.

Helpende Hand se reaksie volg op die aankondiging deur die hoofbestuurder van korporatiewe sake by MultiChoice, Jackie Rakitla, dat die maatskappy oorweeg om pornografie uit te saai en tans besig is met marknavorsing om belangstelling by kykers te toets.

“Op die oog af is daar nie veel verkeerd met MultiChoice se voorneme nie, want die handves van menseregte maak immers voorsiening vir die vryheid van die media om hierdie keuse aan sy kyker te bied,” sê dr. Danie Langner, uitvoerende direkteur van Helpende Hand. Volgens dr. Langner word kinders se regte egter deur hierdie besluit geskend.

“Soos President Mandela tereg gesê het, word die karakter van’n nasie gemeet aan die manier hoe hy kinders behandel. Volgens die handves van menseregte is dit duidelik dat ’n kind se beste belang van deurslaggewende belang is in elke aangeleentheid wat die kind raak,” sê dr. Langner. “Studies bewys dat 77% van molesteerders van seuns en 87% van molesteerders van meisies pornografie gebruik en naboots op hulle slagoffers. Perversiteit word aangewakker deur pornografie en navorsing toon dit is onwaar dat verkragtings en molestering afneem as pornografie vrylik beskikbaar is,” voeg dr. Langner by.

Die omstrede advokaat Barbie, oftewel Cézanne Visser, se onlangse skuldigbevinding op 11 klagtes van onder meer seksuele aanranding, asook die besit en vervaardiging van kinderpornografie het weereens die kollig laat val op die gevare wat pornografie inhou. Verlede jaar het Helpende Hand in ‘n verslag oor misdaad teen kinders bevind dat daar ? noue verband is tussen pornografie en kindermolestering. Alle pornografiekykers is nie noodwendig molesteerders nie, maar volgens kenners kyk alle kindermolesteerders na pornografie. “Die Kindermishandelingverslag het onder meer bevind dat slagoffers van seksuele mishandeling in 90% van gevalle die oortreders ken. Aangesien gesinslede of bekendes grotendeels vir seksuele mishandeling van kinders verantwoordelik is, sal kindermishandeling en molestering dramaties toeneem,” sê dr. Langner. Elke dag word 60 gevalle van kinderverkragting en 13 gevalle van kindermishandeling aangemeld. Ongeveer 88% van verkragtings word egter nie aangemeld nie.

“Die kernsaak is dus nie die regte van die individuele kyker en of pornografie op’n oop kanaal of betaalkanaal aangebied word nie, maar hoe hierdie saak kinders se reg op beskerming en ? veilige omgewing raak,” sê dr. Langner.

Volgens hom moet MultiChoice eerder ? bydrae tot die bekamping van kindermishandeling lewer as om materiaal uit te saai wat die misbruik van kinders gaan vererger.

“Suid-Afrika se kinders verdien beter en alle Suid-Afrikaners moet ‘n kans kry om nee te stem vir pornografie,” sê dr. Langner.

 

Luister na bekendes wat reeds nee gesê het vir pornografie

http://www.solmediafiles.co.za/radio/onderhoude/mense-op-maandag/meer-sien-van-wat-2010-03-01.mp3

* Hettie Brittz – “Die sogenaamde verwysing na ‘volwasse inhoud’ is
eintlik onvolwasse. Pornografie het ? vernietigende effek. Asseblief nie, MultiChoice!”

* Mel Botes – “As jou land se waardesisteem val, is jy besig om
agteruit te gaan. Dit is teen my beginsels. In ? land waar jy blootgestel word aan so iets, word jou jeug verkeerd geleer.”

* Izak Davel – “Mense moet eerder geld spandeer om arm mense en
weeskinders te help en geweld teëwerk. Pornografie is ? belediging vir die mensdom.“

* Gretha Wiid – “Ons jeug en ons huwelike bloei! Ons kinders word
nie beskerm nie. MultiChoice is besig om ons jeug te kruisig; hulle verkoop ons kinders se siele vir geld terwyl hulle hul hande in onskuld was!”

* Jakkie Louw – “As ons nie bereid is om ons kinders op te pas nie,
wie gaan? Kinders is die toekoms en watter toekoms berei ons voor as ons hulle gif op die TV voer?”

* Mandi du Plooy – “Dit is geweldig skokkend en hartseer en ek sal
alles in my vermoë doen om mense te waarsku.”

* Org Strauss – “Dit kan nooit ooreenstem met my waardes as Christen
en Afrikaner nie. Die blootstelling aan pornografie is besig om ons jeug se opvoeding te vernietig.”

* Victor Matfield – “Ek as ouer van twee kinders wil nie my kinders
blootstel aan pornografie nie.”

* Adriana Faling – “Pornografie, saam met godslastering, en ? rits
ander sondes word daagliks in hoër dosisse by ons vermaak gemeng en ons word al hoe lakser en gemakliker daarmee.”

* Bobby van Jaarsveld – “As hulle dink daar is baie skade aan
Suid-Afrika se mense, gesinne en veral jong mense het hulle nog niks gesien tot hulle daai snert begin toelaat nie. Dis siek!”

* Sean Else – “Ek wil nie hê my geld moet bydra tot die
vervaardiging van pornografie nie. Die media se vryheid onderstreep weereens die verantwoordelikheid van die individu en ouers om jouself en jou kinders te beskerm!”

* Schalk Baard – “Dit is belaglik en baie hartseer dat MultiChoice
op so ? manier ekstra geld wil maak.”

* Carike Keuzenkamp – “Ek is definitief heeltemal gekant teen enige
vorm van pornografie op televisie.”

* Shaleen Surtie Richards – “Ek bid tot die Here dat die mense wat
hierdie besluite neem nie self kinders of pedofiele in hulle familie het nie.”

* Steve Booysen: “Nog ? aanslag op die waardesisteem van ons mense. MultiChoice kan net sowel pornografie op hul werknemers se skerms toelaat.”