Stem nee vir pornografie! Helpende Hand loods veldtog teen DSTV sekskanale

Mediaverklaring

Solidariteit Helpende Hand

25 Februarie 2010

 

“Stem nee vir pornografie op DSTV.” Dit is die boodskap van Solidariteit Helpende Hand wat vandag ? veldtog afskop om duisende Suid-Afrikaners te mobiliseer om op te staan teen DSTV MultiChoice se voorgenome implementering van pornografiese en sekskanale op dié televisiediens. Talle bekendes soos Victor Matfield, Mel Botes, Hettie Britz en Bobby van Jaarsveld het reeds hul steun aan die veldtog toegesê en het hulle sterk teen MultiChoice uitgespreek (sien onderstaande lys).

Helpende Hand se reaksie volg op die aankondiging deur die hoofbestuurder van korporatiewe sake by MultiChoice, Jackie Rakitla, hierdie week dat MultiChoice dit oorweeg om pornografie uit te saai en tans besig is met marknavorsing om belangstelling by kykers toets.

“Alle Suid-Afrikaners kan nou op die webblad www.neevirpornografie.co.za hul stem teen pornografie uitbring en op dié manier protes aanteken teen pornografie. Stem nou nee vir pornografie,” sê dr. Danie Langner, uitvoerende direkteur van Helpende Hand.

Alle briewe sal direk na die uitvoerende hoof van MultiChoice, Nico Meyer, gestuur word. Diegene wat nie toegang het tot e-pos nie kan die woord “pornografie” ook na 35960 SMS. Die SMS’e sal ook as ? protesstem geag word.

‘n SMS kos R3.

Helpende Hand waarsku intussen dat die maatskappy aan kykers se stem moet gehoor gee. “Sou MultiChoice voortgaan met die proses, beoog Helpende Hand om al sy lede aan te moedig om hulle DSTV-inskrywings te kanselleer en om die veldtog selfs uit te brei na ander organisasies om soortegelyke veldtogte van stapel te stuur,” verduidelik dr. Langner.

“Daar is ? sterk verband tussen pornografie en kindermolestering,” sê dr.

Langner. “Alle pornografiekykers is nie noodwendig molesteerders nie, maar volgens kenners kyk alle kindermolesteerders na pornografie.” Dié bevindinge is vervat in die Kindermisdaadverslag wat verlede jaar deur Helpende Hand vrygestel is.

Die Kindermisdaadverslag het onder meer bevind dat slagoffers van seksuele mishandeling in 90% van gevalle van misbruik die oortreders ken.

“Perversiteit word aangewakker deur pornografie. Aangesien gesinslede of bekendes grotendeels vir seksuele mishandeling verantwoordelik is, sal kindermishandeling dramaties toeneem,” voeg dr. Langner by.

Die implementering van sekskanale op DSTV kan ook as ? vorm van kindermolestering en ? skending van kinderregte beskou word. Volgens bevindings in die verslag behoort kinders glad nie aan pornografie blootgestel te word nie aangesien dit seksuele eksperimentering by kinders aanwakker. Volgens dr. Langner is dit onmoontlik om 24 uur ? dag toe te sien dat kinders en jongmense nie na pornografiese kanale op DSTV kyk nie.

“MultiChoice wil weet wat die impak op hulle korporatiewe beeld sal wees.

Word die impak op ons weerlose kinders ook oorweeg? Word die impak op ons land se verdere morele verval en die invloed van perversiteit op kindermisdaad ook oorweeg?” vra dr. Langner.

Daar word elke drie minute ? kind in Suid-Afrika verkrag. Elke dag word daar 60 kinderverkragtings en 13 gevalle van mishandeling aangemeld. Ongeveer 88% van verkragtings word egter nie aangemeld nie.

“MultiChoice moet eerder ? bydrae tot die bekamping van kindermishandeling lewer as om materiaal uit te saai wat die misbruik van kinders gaan vererger,” sê dr. Langner.

Volgens Langer kan geld wat lede van die publiek maandeliks vir ? pornografiekanaal wil betaal eerder aangewend word om Helpende Hand se kinderopheffingsprojekte te ondersteun.

“Helpende Hand vra alle Christene uit alle gemeenskappe om ter wille van ons kinders standpunt teen MultiChoice in te neem,” sê dr. Langner.

Lindie Strydom

Solidariteit Helpende Hand

Skakelbeampte

012 644 4390

083 565 2313

<http://www.helpendehand.co.za/> www.helpendehand.co.za <http://www.solidariteitradio.co.za/?page_id=427>

www.solidariteitradio.co.za

Luister na bekendes wat reeds nee gesê het vir pornografie:

http://www.solmediafiles.co.za/radio/onderhoude/mense-op-maandag/meer-sien-v

an-wat-2010-03-01.mp3

* Hettie Brittz – “Die sogenaamde verwysing na ‘volwasse inhoud’ is

eintlik onvolwasse. Pornografie het ? vernietigende effek. Asseblief nie, MultiChoice!”

* Mel Botes – “As jou land se waardesisteem val, is jy besig om

agteruit te gaan. Dit is teen my beginsels. In ? land waar jy blootgestel word aan so iets, word jou jeug verkeerd geleer.”

* Izak Davel: “Mense moet eerder geld spandeer om arm mense en

weeskinders te help en geweld teë werk. Pornografie is ? belediging vir die mensdom. “

* Gretha Wiid – “Ons jeug en ons huwelike bloei! Ons kinders word

nie beskerm nie. MultiChoice is besig om ons jeug te kruisig; hulle verkoop ons kinders se siele vir geld terwyl hulle hul hande in onskuld was!”

* Jakkie Louw – “As ons nie bereid is om ons kinders op te pas nie,

wie gaan? Kinders is die toekoms, en watter toekoms berei ons voor as ons hulle gif op die TV voer?”

* Mandi du Plooy – “Dit is geweldig skokkend en hartseer en ek sal

alles in my vermoë doen om mense te waarsku.”

* Org Strauss – “Dit kan nooit ooreenstem met my waardes as Christen

en Afrikaner nie. Die blootstelling aan pornografie is besig om ons jeug se opvoeding te vernietig.”

* Victor Matfield – “Ek as ouer van twee kinders wil nie my kinders

blootstel aan pornografie nie.”

* Adriana Faling – “Pornografie, saam met godslastering, en ? rits

ander sondes word daagliks in hoër dosisse by ons vermaak gemeng en ons word al hoe lakser en gemakliker daarmee.”

* Bobby van Jaarsveld – “As hulle dink daar is baie skade aan

Suid-Afrika se mense, gesinne en veral jong mense het hulle nog niks gesien tot hulle daai snert begin toelaat nie. Dis siek!”

* Sean Else – “Ek wil nie hê my geld moet bydra tot die

vervaardiging van pornografie nie. Die media se vryheid onderstreep weereens die verantwoordelikheid van die individu en ouers om jouself en jou kinders te beskerm!”

* Schalk Baard – “Dit is belaglik en baie hartseer dat MultiChoice

op so ? manier ekstra geld wil maak.”

* Carike Keuzenkamp – “Ek is definitief heeltemal gekant teen enige

vorm van pornografie op televisie.”

* Shaleen Surtie Richards – “Ek bid tot die Here dat die mense wat

hierdie besluite neem nie self kinders of pedofiele in hulle familie het nie.”