Helpende Hand eis red ons kinders

 

Solidariteit Helpende Hand eis namens bekommerde ouers dat die regering aksie neem om hulle kinders se regte wat in die Grondwet belowe word in ere te herstel deur ‘n omgewing te skep waarbinne ons kinders weer waarlik vry kan wees om kind te wees. Hoe die staat ons kinders faal het weer sterk na vore gekom dié week na ? eksklusiewe onderhoud op Solidariteit Radio. Die onderhoud het lig gewerp op die polisie se swak hantering van sake waarby kinders betrokke is, hoofsaaklik as gevolg van die gebrek aan spesialis Kinderbeskermseenhede.

Tydens dié onderhoud wat verlede Maandag op Helpende Hand se program “Mense op Maandag” uitgesaai is, vertel ? ma van Johannesburg hoe haar tweejarige baba-seuntjie amper uit sy stootwaentjie gesteel is oppad terug na haar huis in Weltevredenpark. ? Onbekende man het haar genader, met ? mes gedreig, waarna hy haar betas het. Daarna het hy die babatjie uit sy stootwaentjie probeer losmaak. ? Weldoener het ingegryp en kon daarin slaag om ma en baba te help om te ontsnap. Tydens die voorval het die ma diep snywonde opgedoen.

Die ma het later die voorval by die Honeydew polisiestasie gaan aanmeld waar sy vermakerig uitgevra is oor presies hoe sy betas is. Die manlike polisie offisier het haar in die ontvangsarea van die polisiekantoor ondervra sonder ‘n berader wat volgens voorskrifte teenwoordig moet wees .*

“Die voorval beklemtoon weereens die Suid-Afrikaanse polisiediens se onvermoë om seksuele aanranding- en ontvoeringsake, veral waar kinders betrokke is, met die nodige sensitiwiteit te hanteer,” sê dr Danie Langner, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.

Helpende Hand het per ope brief aan die adjunk-minister van polisie, Fikile Mbalula, die minister van polisie, Nathi Mthethwa, sowel as die minister van vroue, jeug, kinders en mense met gestremdhede, Noluthando Mayende-Sibiya die bekommernis van die ouers oorgedra. Helpende Hand het weereens gevra vir die herinstel van Kinderbeskermingseenhede, veral omdat die Sokker Wêreldbeker nader kom. Soos reeds wyd berig, gaan dit groot eise stel aan die regering om ons kinders te beskerm teen kinderprostitusie, kinderontvoerings vir hierdie doel en ons kinders se algemene veiligheid.

“Die ministers het reeds verlede jaar in die parlement en media beloof dat Kinderbeskermingseenhede heringestel gaan word. Leë beloftes gaan nie ons kinders beskerm teen mensehandel met die Wêreldbeker net om die draai nie,” sê dr Danie Langner, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand

Luister na die volledige onderhoud op www.solidariteitradio.co.za – Mense op Maandag. Die volledige brief aan die ministers word aangeheg.

Dr Danie Langner

Uitvoerende direkteur

Solidariteit Helpende Hand

084 2579164