4-jarige uit wit plakkerskamp verwyder

Mediaverklaring
Solidariteit Helpende Hand
9 Desember 2009

4-jarige uit wit plakkerskamp verwyder

Solidariteit Helpende Hand het verlede week in samewerking met die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling daadwerklik teen misdaad teen kinders opgetree toe ’n mishandelde 4-jarige dogtertjie uit ’n wit plakkerskamp verwyder is.

“Hierdie dogtertjie is een van die gelukkiges,” verduidelik dr. Danie Langner, uitvoerende direkteur van Helpende Hand. “Gelukkig omdat sy vir die feestyd ‘n veilige vesting kan hê. Dít nadat haar ma vir ons gesê het sy verstaan nie wat die probleem is nie, want sy het dieselfde deurgemaak toe sy klein was.”

Volgens dr. Langner verwag Helpende Hand dat daar in Desember vermoedelik 16 430 kinders in Suid-Afrika verkrag gaan word. Die syfer kan egter baie hoër wees met alkohol- en dwelmmisbruik wat oor die feestyd toeneem. Ongelukkig gaan na verwagting net sowat 1 972 van hierdie verkragtings aangemeld word.

Helpende Hand het vroeër vanjaar sy kindermisdaadverslag bekendgemaak. Hierdie verslag het skokkende statistieke en feite oor die vlakke van kindermoorde, -verkragtings en -mishandeling wat tans in Suid-Afrika voorkom, bevat. Terwyl daar daagliks nagenoeg 60 gevalle van kinderverkragting in Suid-Afrika aangemeld word, word meer as 88% van kinderverkragtings egter nooit aangemeld nie. Dit beteken dus dat sowat 530 kinderverkragtings in werklikheid daagliks plaasvind – dit is een voorval elke drie minute.

Die verslag lê ook die ernstige tekorte aan kundige maatskaplike werkers en die moeilike werksomstandighede bloot. Sekere organisasies, soos Kindersorg Suid-Afrika, werk jaarliks met meer as 2 miljoen kinders en hul gesinne. Dit beteken dat die gemiddelde maatskaplike werker jaarliks nagenoeg 200 sake hanteer, terwyl die aanvaarde norm 60 is.

Mariana Kriel
Solidariteit Helpende Hand
Projekbestuurder
mariana@helpendehand.co.za

Marisa Engelbrecht
Solidariteit Helpende Hand
Kommunikasiebestuurder
marisa@helpendehand.co.za

 

Wie is Solidariteit Helpende Hand?
Solidariteit Helpende Hand is die vakbond Solidariteit se gemeenskapsinisiatief. Helpende Hand funksioneer binne die Solidariteit-beweging maar staan as ’n onafhanklike Artikel 21-maatskappy wat sy eie fondse genereer. Helpende Hand bedryf ’n Afrikaanse beursinstituut, ’n beroepsleidinginstituut en ’n Instituut vir gemeenskappe wat omgee. Die organisasie dryf opheffingsprojekte vir behoeftige gemeenskappe en fokus hoofsaaklik op vyf groot projekte naamlik: Nasionale Skooltassieprojek, Nasionale Kosblikkieprojek, Beroepsleiding en gemeenskapsbeurse, Nasionale Handjie-vat Dag, en werkskepping.
Vir meer inligting besoek gerus www.helpendehand.co.za of skakel 012 644 4390.