Helpende Hand ondersoek wat jou daaglikse kos, kos
Mediaverklaring
Solidariteit Helpende Hand
5 Oktober 2009
Helpende Hand ondersoek wat jou daaglikse kos, kos
Solidariteit Helpende Hand het vandag ondersoek ingestel na die koste van ’n mens se daaglikse kos. Navorsing wat verlede week bekendgemaak is, het tot hierdie indiepte ondersoek gelei wat vandag op Mense op Maandag op Solidariteit Radio uitgesaai is.
“Helpende Hand kry daagliks te doen met behoeftiges – mense wat eenvoudig nie kos op die tafel het nie en mense wat maandeliks minder as R250 het om mee kos te koop. Wat koop mens met R250? Vandag se program vra nie net vrae nie, maar gee antwoorde op die vrae: Wat kos jou daaglikse kos? Wat is die mees ekonomiese, gebalanseerde, maar tog voedsame ete vir die gewone man op straat?” verduidelik Lindie Strydom, skakelbeampte van Helpende Hand en programaanbieder.
Die 30-minute program werp lig op die gebrek aan voldoende voedsame kos, wat die grootste vorm van ontmagtiging van arm mense is. Diegene met genoeg kos kan hul inkomste verhoog omdat hulle beter kos kan koop, wat dan hul produktiwiteit verhoog, terwyl arm mense net nog armer word weens hul gebrek aan voedsame kos wat produktiwiteit kan verhoog. Laastens kyk die program na aspekte waaraan aandag gegee moet word – nie net die koste van ’n bepaalde kosmandjie nie, maar spesifiek die voedingswaarde daarvan.
Helpende Hand het by die dieetkundige Maryke van Zyl ’n draai gaan maak om te leer wat die minimum bestanddele vir ’n gesonde gebalanseerde ete is en wat die mees ekonomiese opsies is. Vir die program het Helpende Hand ook haar voorstelle self beproef deur vir 20 mense ’n gesonde groentesop vir net R20 te kook.
“Maryke het ook haar navorsing aan Helpende Hand beskikbaar gestel sodat ons weer vir voedingskemas leiding kan gee oor basiese, gesonde en ekonomiese voeding. Mens is geneig om iets soos middagete as vanselfsprekend te aanvaar maar die realiteit is dat armoede geweldig toeneem,” sê Strydom.
Helpende Hand het ook aangeklop by ’n voedingskema in Brits en ’n kleuterskool in Centurion en was aangenaam verras oor waarmee hulle vorendag gekom het.
Om na die program te luister, skakel in by www.solidariteitradio.co.za en kies die Luister Weer-opsie.
Lindie Strydom
Solidariteit Helpende Hand
Skakelbeampte









