Gebroke Land

Die boek Gebroke Land, wat tydens die Helpende Hand Reddingsdaadkongres bekendgestel is, vertel vir die eerste keer van die drie fases van armoede in die Afrikaanse gemeenskappe.

“…gebroke land, geliefde land
– jý vra net ‘n vonk
vir ‘n vlam van hoop…”

Die verhale roer jou hart en die foto’s laat ‘n knop in die keel.

Vir meer inligting skakel Helpende Hand by 012 644 4390 of stuur ‘n e-pos na diens@helpendehand.co.za.

Op 17 Oktober, net voor die Helpende Hand Reddingsdaadkongres, skryf Jan-Jan Joubert in Rapport:
“‘Dit moet ons doel wees om die weglatings in die Carnegie-verslag reg te stel. Armoede ken geen kleur nie,” sê dr. Danie Langner van Solidariteit Helpende Hand oor die mynveld wat op die Reddingsdaad-kongres aangepak gaan word.
Terwyl daar onder Afrikaanse mense ’n groeiende besef is van erge Afrikaanse armoede, is mense onseker oor hoe hulle prakties kan help met noodleniging en hoe langtermyn-oplossings gevind kan word.

Dit is waarom Helpende Hand uit die geskiedenis gaan neem het wat goed is – die volkskongres van 1939 en die daaruit voortspruitende Reddingsdaadbond, ’n hoogs geslaagde selfhelp-opheffingspoging wat uit die destydse Carnegie-verslag oor armblankes ontstaan het.

Die komende week, ná 70 jaar, word die net heelwat wyer gegooi om volgens dieselfde model ’n selfopheffings- en volhoubare taalpoging eerder as ’n raspoging van stapel te stuur.

Hoe kan dit gedoen word?

In die pragtige pas verskene boek Gebroke land skryf prof. Grietjie Verhoef hoe daar ses hoofpunte was wat die sukses van die eerste Reddingsdaad-poging geanker het:

  • Bevordering van handels- en tegniese opleiding;
  • Mobilisering van Afrikaanse kapitaal- en spaarkrag om die Afrikaanse aandeel in die handel en nywerheid te verhoog;
  • Die skepping van koöperatiewe banke, groothandelsake en winkels;
  • Die oprigting van fabrieke met Afrikaanse kapitaal;
  • Die stigting van die Reddingsdaadfonds as finansieringsmeganisme vir nuwe Afrikaanse ondernemings; en
  • Die vestiging van ’n gesonde lewenswyse.

Hierin was die Reddingsdaadbond baie suksesvol, met die Afrikaanse Handelsinstituut, die latere Trust Bank en Saambou, en Federale Volksbeleggings (FVB) wat daaruit voortgevloei het.

Die FVB was die finansieringsmeganisme wat entrepreneurs gehelp het om aanvangskapitaal vir hul ondernemings te bekom.

Aandele in die FVB is in klein hoeveelhede aan gewone mense verkoop en dan as minderheidsbelang in nuwe ondernemings belê. Die entrepreneur het dus ondersteuning geniet, maar die onderneming was steeds syne.
Hierdie model was ongelooflik suksesvol.

Bekende ondernemings wat hierby baat gevind het, was onder meer die latere Saambou en Trust Bank (vandag maak dit deel van Absa uit), Federale Mynbou (waaruit die huidige Gencor gegroei het), die Voorbrand-tabakmaatskappy (grondslag van die Rupert-familie se huidige sakeryk) en die tekstielfabriek van die nyweraar dr. Albert Wessels, wat uiteindelik Toyota SA sou beheer.

Die komende week se kongres sal slegs suksesvol wees as dieselfde tipe blywende strukture gevestig kan word, want die armblanke-probleem wat die Carnegie-kommissie destyds so sekuur gekarteer het, het weer kop uitgesteek, en hierdie keer besef die rolspelers dat die nood in die ganse Afrikaanse gemeenskap met al sy diversiteit voorkom.

Dit was Helpende Hand wat oor die afgelope paar jaar die sluier gelig het oor die herverskyning van die armblanke-vraagstuk in veral die noordelike gedeelte van die land.

Met ’n verskeidenheid voedselvoorsiening- en selfhelpprojekte het hulle die verskynsel self begin takel, maar die projek het so uitgekring dat dit nou ook armoede onder ’n ander Afrikaanse segment – die bruin gemeenskap – begin takel.

In die Wes-Kaap is 70% van die kinders wat deur onder meer die Skooltassie-projek baat vind by Helpende Hand se opheffingswerk bruin kinders.

Langner verduidelik dit is op elke vlak ’n tameletjie om die armoede-verskynsel te takel weens die politieke ingewikkeldheid binne die Suid-Afrikaanse opset.

Omdat daar so ’n see van armoede is en omdat swart armoede so onteenseglik meer omvangryk is as enige ander definieerbare armoede, loop die¬gene met wie dit afgryslik sleg gaan (maar miskien nie heeltemal so sleg as met die aller-armstes nie) die gevaar dat staatshulp nie by hulle uitkom nie, want die staat moet uiteraard voorkeur aan die heel armste mense gee.

Baie Afrikaanse armes van alle rasse val in hierdie groep hulpbehoewendes die staat nie genoegsaam kan help nie.
Selfhelp is dus nodig, veral omdat die regerende ANC luidens sy beleid eerstens verbind is tot die verbetering van die lot van “swart mense, en veral Afrikane”.

Uiteraard skep dit ’n etiese vraagstuk wat enigeen wat betrokke wil raak by die voorgenome Afrikaanse opheffing waarvoor die week se kongres die grondslag wil lê, individueel moet beantwoord.
Daardie vraagstuk is, aan die een kant, of dit hoegenaamd moreel aanvaarbaar is om armoede selektief (in hierdie geval in taalverband) te wil oplos.

En aan die ander kant: Gegewe die omvang van die probleem, of dit nie beter is om op ’n nis te fokus eerder as om ’n straaltjie te wil afkeer uit ’n see, en minstens iets te doen weg van die dikwels korrupte en in ’n groot mate rasgesentreerde pogings van die regering nie.

Boonop verskil Afrikaanse plakkers en ander Afrikaanse armes se omstandighede van dié van baie ander armes in Suid-Afrika.

Tydens ’n besoek die afgelope week aan kleinhoewes ten noorde van Pretoria het dr. Dirk Hermann van Solidariteit enkele spesifieke aspekte van Afrikaanse armoede uitgelig.

Een daarvan is dat dit moeilik is om raak te sien. Daar is byvoorbeeld 77 oorwegend Afrikaanse plakkersgebiede in en om Pretoria, maar dis gewoonlik op private eerder as staatsgrond.

Hoewe-eienaars “boer” basies met mense wat in die haglikste omstandighede denkbaar woon, en ’n bedrag per maand aan die eienaar betaal.

Voorts is baie stedelike Afrikaanse plakkers agterplaasbewoners wat huur aan huiseienaars betaal.

In albei hierdie soort voorbeelde sal dit vir die plakkers moeilik wees om staatshulp vir Hop-huise te bekom omdat hulle eerstens nie op staatsgrond woon nie en hul blyplek tweedens moeilik waarneembaar is op die lug¬foto’s wat die departement van menslike nedersettings gebruik om behuisingsbehoeftes te bepaal. “

Comments are closed.