Limpopo: Limpopo-streek steek hulle hande op vir kinders

Deur Marianthie van der Walt (organiseerder van die Limpopo-streek)

Mense steek hulle hande op vir iets wanneer hulle daarin glo, daarvan hou en deel daarvan wil wees.

Solidariteit Helpende Hand se visie is ‘opheffing deur opleiding’ en ons wil in 2012 opnuut in Limpopo vir gemeenskappe wys hoe hierdie benadering hoop vir ons toekoms skep.

Lindie Strydom, projekkoördineerder van Helpende Hand, se inspirerende praatjie oor hoe ons ons hande kan opsteek en betrokke kan raak, het ons streek gemotiveer om ook mense in hulle eie gemeenskappe te inspireer om nog meer hande te vat en saam te staan vir ʼn saak wat oplossings kan bied in die stryd om die armoedesiklus te breek.

Die Limpopo/Noordwes-streek bied vanjaar, in samewerking met die kunstenaars die Juba Broers, die Steek Jou Hand Op Roadshow aan. Met hierdie toervertoning wil ons soveel as moontlik dorpe besoek en ʼn regte, egte Boeredans aanbied ten bate van behoeftige kinders.

Om keer op keer sporttoere en kultuuraktiwiteite mis te loop, veroorsaak agterstand. Om daagliks te loop met die skaamte en seer van skoolfonds wat agterstallig is, veroorsaak agterstand. Om moeilike omstandighede te moet trotseer sonder ʼn sterk ondersteuningsnetwerk of berading, veroorsaak agterstand. Hierdie agterstand veroorsaak weer op sy beurt dat potensiaal nie ontwikkel word nie en ons kinders word magteloos en moedeloos.

Ons wil poog om in soveel as moontlik dorpe ʼn ondersteuningsfonds vir kinders te stig. Hierdie fonds kan geleenthede aan behoeftige leerders bied wat ʼn kritiese rol in hulle ontwikkeling en emosionele welstand speel.

Aan die ander kant wil ons fondse insamel sonder om ook spreekwoordelik bakhand te staan. Ons wil aan ons donateurs ʼn vermaaklike geleentheid bied wat vir hulle waarde vir hulle geld gee en hulle laat voel hulle wil graag gee. Ons kan mos iets geniet en daardeur vir ander ook iets beteken!

Die Steek Jou Hand Op Roadshow strek vanaf Februarie tot Junie in ons streek en ons is baie opgewonde om saam met uitstekende kunstenaars soos die Juba Broers te werk ten einde ʼn waardevolle belegging in die toekoms van ons kinders te maak! Die Juba Broers het selfs vir ons ʼn spesiale ‘Steek Jou Hand Op’-liedjie geskryf, wat ook tydens die toervertoning bekendgestel sal word.

Indien jy jou hand saam met ons wil opsteek en belangstel om een van ons funksies by te woon, of dalk ook so ‘n funksie wil aanbied, skakel Marianthie van der Walt by 082 741 7858.

Besoek gerus ons webwerf by www.helpendehand.co.za as jy by die organisasie betrokke wil raak, of SMS die woord ‘hand’ na 34388 en ʼn agent sal jou skakel om vas te stel hoe jy betrokke wil raak.