Beurse – ʼn Suksesverhaal met plante: Charne Malan

Deur Juanita du Preez

Die doel van Solidariteit Helpende Hand is om jongmense vir die wêreld van werk voor te berei.

Flip Buys, uitvoerende hoof van die Solidariteit Beweging, het gesê dat indien ʼn minderheid in ʼn meerderheidsomgewing wil oorleef, hulle die meerderheid kennis moet hê. Helpende Hand se Afrikaanse Beursinstituut (ABI) is ʼn goeie middel om hierdie stelling te verwesentlik.

Tans bestuur en administreer die ABI 56 beursfondse in totaal. In 2011 is 23 nuwe beursfondse geskep en 11 volwaardige gemeenskapsbeurse gestig wat uitsluitlik behoeftige studente in hul streek of tak bedien.

 

ʼn Bedrag van R7 miljoen sal vir 2012 aan studielenings uitbetaal word wat na afloop van elke student se studies rentevry terugbetaal moet word.

Dié getalle klink indrukwekkend, maar dis eers wanneer jy by studente in hul eie woorde hoor wat die beurslening beteken het, dat die waarde daarvan werklik besef word.

Charné Malan is so ʼn student.

Ek studeer vir `ʼn BSc-graad in Geologie/Plantkunde en het sopas as tweedejaarstudent by die Noordwes-Universiteit begin. Dit is `ʼn driejaarkursus, maar ek wil ook graag later vir my honneursgraad studeer.

Ek het in 2011 `ʼn leningsbeurs van R12 000 by die Rapport Onderwysfonds ontvang.

Wat ʼn ongelooflike jaar! Dankie tog vir die Ontvangs- en Bekendstellingsprogram wat die Pukke aangebied het. Daarsonder sou ek totaal en al verlore gewees het op kampus. Ek het baie gou vriende gemaak en tuis gevoel terwyl ons blommetjies vir JOOL gevou het.

My geliefkoosde vak word toe plantkunde. Op skool het ek fisika gehaat en gesukkel om dit deur te kom. Op die PUK het ek dit baie geniet en tot my verbasing ʼn onderskeiding daarin gekry! Chemie, veral die praktiese deel, is vir my interessant, maar beslis die moeilikste van al my vakke.

Ek was geseën met wonderlike dosente in my eerste studiejaar en prof Martie Coetzee (Geologie) was my gunsteling. Wat ʼn dierbare en plat-op-die-aarde mens!

Om in ʼn studentehuis te bly was ʼn baie groot aanpassing. Ek het verskriklik huis toe verlang en omdat my ouers nege ure weg van Potch af is, kon ek net vier keer huis toe gaan. My grootste troos was om elke Sondag kerk toe te gaan. Studentekerk is `ʼn wonderlike belewenis!

Hier het ek werklik geleer wat harde werk is; ek het nog nooit so baie werk gehad nie, maar die pret het nie agterweë gebly nie! My vriendekring is wonderlik. Ons kuier saam, troos mekaar en het goeie, gesonde pret.

Baie dankie vir die finansiële ondersteuning en omgee en dat julle dit vir my moontlik gemaak het om te studeer vir my toekoms.

Ek kan in alle eerlikheid sê dat 2011 my gehelp het om groot te word en meer verantwoordelik te wees. Ek sien uit na 2012 met al sy uitdagings!

Deur die genade van Bo het die Rapport Onderwysfonds weer vir my ʼn studielening van R15 000 toegeken vir 2012. Ek is baie dankbaar daaroor.